
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Prysbeheer in gesondheidsektor ‘kan ʼn goeie of slegte ding wees’
Prysbeheer in die gesondheidsorgsektor “kan ’n goeie of ’n slegte ding wees” afhangend daarvan of algemene praktisyns wel oor pryse sal kan onderhandel. Lees verder om meer te wete te kom oor dié kwessie wat jou praktyk kan raak.
Deur Nico Strydom
“Algemene praktisyns is besig om al meer ongelukkig te raak aangesien hulle heersende pryse moet aanvaar en nie ’n invloed daarop kan hê nie”, sê dr. Angelique Coetzee, lid van die adviesraad van Solidariteit se Doktersnetwerk.
Privaat praktisyns sal egter moontlik weer binnekort saam met mediese fondse oor pryse kan onderhandel nadat daar konsepregulasies uitgereik is om aan die gesondheidsorgsektor vrystelling van sekere bepalings van die Mededingingswet te gee.
Daar is al vir meer as 20 jaar nie ʼn regulatoriese raamwerk vir mediese fondse en verskaffers om oor pryse te kan onderhandel nie. Die Mededingingskommissie het in 2003 die kollektiewe onderhandeling van pryse tussen praktisyns en mediese fondse onwettig verklaar.
Die daarstelling van ʼn tariefbepalingsraamwerk kom na die Mededingingskommissie se markondersoek oor gesondheid wat in 2014 begin is. Sy finale verslag is in November 2019 uitgereik en een van die bevindinge is die behoefte aan ʼn gestruktureerde proses van prysbepaling.
Die konsepregulasies verskaf vrystelling van sekere bepalings van die Mededingingswet sodat daar gesamentlik oor pryse onderhandel kan word. Daar word ook voorsiening gemaak vir ’n prysbeheerliggaam wat deur die nasionale departement van gesondheid in konsultasie met die Raad op Mediese Skemas (RMS) geskep moet word. Die regulasies maak ook voorsiening vir die skep van ʼn onderhandelingsforum vir multilaterale onderhandelinge.
“Die forum kan ’n goeie of ’n slegte ding wees, dit hang af of ons sal kan onderhandel oor pryse. As daar egter ʼn houding gaan wees van jy vat dit wat ons vir jou gaan gee, dan is ek bevrees ons gaan nie enigsins uit die situasie uit kom waarin ons tans is nie,” sê Coetzee, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging en mediese dokter van Pretoria.
Algemene praktisyns is volgens Coetzee besig om uit privaat praktyk te gaan aangesien hul inkomste oor die jare glad nie tred gehou het nie en weens onder meer die hoë koste om ’n privaat praktyk te bedryf. Dit is van die redes hoekom baie min jong dokters die privaat praktyk wil betree. “Dis hoekom ons sê daar gaan binne die volgende 10 tot 20 jaar ’n krisis met algemene praktisyns in die private sektor wees. Daar is baie goed wat in plek moet kom as ʼn mens privaat gesondheidsorg vir algemene praktisyns vir nog 20 jaar lewensvatbaar wil hê.”
Maksimum pryse gaan vir mediese praktisyns bepaal word deur middel van multilaterale onderhandelinge en dit gaan maksimum pryse vir voorgeskrewe minimum voordele (VMV) insluit.
Mediese fondse, administrateurs en gesondheidsorgbestuurders word by die multilaterale onderhandelinge betrek, sowel as gesondheidsberoepe wat ingevolge die Wet op Gesondheidsberoepe, die Wet op Verpleegkunde, die Wet op Aanvullende Gesondheidsberoepe en die Wet op Tandheelkundige Tegnici geregistreer is. Dit sluit egter provinsiale- en privaat hospitale, dagklinieke en geestesgesondheidsinstellings uit.
Om op hoogte te bly van tendense en gebeure in die mediese bedryf, bly ingeskakel by jou relevante netwerkgroep, hetsy die Solidariteit Verpleegnetwerk-, Doktersnetwerk– of die Aptekersnetwerkgroep. Solidariteit staan gereed as die waghond om ons lede se regte in die werkplek te beskerm.