
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
NGV deur staatsmedies befonds net nóg ’n dwase voorstel
Voorstelle oor hoe ’n Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel (NGV) befonds kan word, was tot dusver alles geskoei op idees wat ver van die werklikheid verwyder is. Lees meer hier.
Pieter Jordaan
Dit is omdat die NGV hier in Suid-Afrika tans ’n lugkasteel is, ongeag wat ampsdraers in die regering en voorstanders van die NGV sê.
Solidariteit hou voet by stuk dat die NGV nie net onnodig is nie, maar ook onwerkbaar en veral ook onbekostigbaar is. Só voer die vakbond ook in sy hofstukke teen die NGV aan.
Dit keer egter nie groepe wat by die regering vlerksleep, om met dié lugkasteel te volhard nie.
Die jongste voorstel om die nodige fondse te verkry, kom van die Clinton Health Access Initiative.
Hulle voorstel is geskoei op die NGV-witskrif van 2015 waarvolgens staatsamptenare se mediesefondsbydrae na die NGV “herlei” moet word om dit sodoende te befonds.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), kom planne om werkgewerbydrae van GEMS, Polmed en ParMed vir die NGV te gebruik, daarop neer dat staatsdienswerkers se voordele weggekalwe word.
Hy beklemtoon dat ook hierdie voorstel verwerp moet word.
“Baie staatsamptenare sê altyd hulle salarisse is dalk nie so groot nie, maar hul voordele soos hul mediese fonds en pensioen vergoed daarvoor.
“Om amptenare van hul mediese fonds te stroop, sal hierdie voordeel tot niet maak,” sê Du Buisson.
Die Clinton Health Access Initiative se versoek dat vakbonde so ’n voorstel ondersteun, gaan volgens Du Buisson alle verstand te bowe.
“Hoe kan ’n vakbond wat sy lede se beste belange moet verteenwoordig, gevra word om ’n strooptog op sy lede te ondersteun? Uiteraard sal Solidariteit so iets nooit ondersteun nie en sal enige pogings om fondse so te verhaal, in die howe beveg moet word.
“GEMS, Polmed en ParMed is van die beste fondse in die land, en om tot hierdie fondse te kan behoort, is een van die min dinge wat die staatsdiens steeds ’n aanloklike werkgewer maak. Dit mag nooit tot niet gemaak word nie,” se Du Buisson.
Boonop is dit duidelik dat die nagenoeg R60 miljard wat die staat tans vir sy werknemers se fondsbydraes betaal, net ’n druppel in die emmer sal wees wanneer bereken word wat dit sal kos om die NGV te befonds.
Volgens die Solidariteit Navorsingsinstituut kan die NGV jaarliks R660 miljard kos terwyl ander groepe dit veel hoër, op sowat R1 300 miljard, bereken het.
“Niks van Clinton Initiative of enige voorstaander van die NGV se somme maak sin nie,” sê Du Buisson.
“Suid-Afrika kan nie die NGV bekostig nie, ongeag watter wilde planne wie ook al beraam.”