
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Lasterklag teen minister oor vals beskuldigings van misinformasie en hoogverraad
Solidariteit het regstappe begin om die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, van laster aan te kla. Lees meer hier.
Dit volg nadat sy by meer as een geleentheid of op meer as een platform vals, skadelike en beledigende stellings oor die organisasie gemaak het. Dit sluit ʼn mediaverklaring in wat Ntshavheni op 27 Maart 2025 aan lede van die media uitgereik en voorgelees het, en waarin sy Solidariteit en AfriForum van ʼn “misinformasie- en disinformasieveldtog” tydens hul gesamentlike besoek aan die VSA beskuldig.
Ntshavheni het sewe dae om die mediaverklaring waarna verwys word te onttrek en om Solidariteit onvoorwaardelik om verskoning te vra weens die reputasieskade wat hierdie, asook ander opmerkings van haar, die organisasie berokken het.
““Die veldtog teen AfriForum en Solidariteit is absurd,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.
“Dit het alles op 3 Februarie begin toe die ANC ‘n verklaring uitgereik het dat AfriForum skuldig is aan die verspreiding van waninligting. Die ANC se doel was om ‘n sondebok te kry vir die swak diplomatieke verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika.
“Daar is nie ‘n enkele bewys daarvoor gegee nie. Solidariteit is intussen bygetrek. Intussen moes verskeie mediahuise verskonings aan AfriForum en Solidariteit publiseer omdat hulle vals oor die twee instellings gepubliseer het.
“Die jongste is ‘n uitspraak van die Persombud op 30 April teen Daily Maverick. Die absurde is dat daar, op grond van hierdie waninligting oor Solidariteit en AfriForum, klagtes van hoogverraad teen die instellings ondersoek word.
“Die minister in die presidensie, sonder om ‘n enkele feit te gee, sê die kabinet neem kennis van die voortgesette waninligting en die dade van verraad kan nie ongetraf bly nie. Hierdie ongegronde narratief moet stop anders kan die werklike probleme nie hanteer word nie,” het Hermann gesê.
In die regsaanmaning wat aan Ntshavheni gerig is, wys Solidariteit daarop dat die minister se roekelose beskuldigings van misinformasie en disinformasie gemaak is sonder om dit met enige bewyse te staaf.
Sy het nogtans voortgegaan om dit as rede voor te hou waarom wetstoepassingsagentskappe “oortredings” van Solidariteit en AfriForum moet ondersoek.
Verder word Ntshavheni se uitsprake van 13 Mei, waarin sy Solidariteit se “verraderlike dade” en verspreiding van “vals inligting” as ʼn bedreiging vir Suid-Afrika se soewereiniteit beskryf, eweneens veroordeel.
Haar voorstelle oor hoe Solidariteit gestraf kan word, en hoe burgerlike organisasies voortaan beter deur die regering gemonitor of gereguleer kan word, blyk ook ʼn aanval op die organisasie sélf en sy reg op vryheid van spraak en assosiasie te wees.
Ntshavheni se uitlatings word as ʼn poging beskou om organisasies se monde te probeer snoer wanneer hulle dit sou waag om die heersende staatsideologieë uit te daag.
Sou die minister nie op Solidariteit se aanmaning ag slaan nie, sal verdere regstappe sonder enige huiwering volg.
Lees Solidariteit se aanmaning hier.