
Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
80 dae later, nóú moet Ramaphosa om die wêreld Withuis toe
Dit is nagenoeg 80 dae sedert ʼn afvaardiging van die Solidariteit Beweging die Withuis in die VSA besoek het om die veelbesproke Washington-memorandum aan hooggeplaaste lede van die Trump-administrasie te oorhandig. Lees meer hieronder.
Sedertdien het internasionale druk op die Suid-Afrikaanse regering algaande verskerp, selfs al weier die ANC-geleide leierskap steeds om rassebeleide te laat vaar wat die land reuseskade berokken en waarmee Suid-Afrikaners onderdruk word.
Een van die lede van die afvaardiging, Jaco Kleynhans, het sedertdien ook verskeie lande in Europa besoek en ʼn Europa-memorandum by die Europese Parlement ingedien waarin Suid-Afrika se obsessie met diskriminerende rasgebaseerde wetgewing uiteengesit is.
Nou, in die komende week, is dit die Suid-Afrikaanse regering se beurt om voor pres. Trump daaroor verslag te doen. Pres. Cyril Ramaphosa kry op 21 Mei sy beurt in die Withuis waar hy ook gunstige handelsvoorwaardes met die Amerikaners moet beding.
Kleynhans, Solidariteit se hoof van openbare skakeling, glo Ramaphosa sal die geleentheid wil gebruik om Trump te oortuig hoe wettige vrese van Afrikaners en ander bekommerde Suid-Afrikaners ongeldig of selfs onwaar is.
“Ramaphosa is ’n meestermanipuleerder, maar ek dink nie Trump gaan die geleentheid verspeel om Ramaphosa onder groot, groot druk te plaas nie. Ek vermoed die ANC-president gaan oor veel meer kwessies as net Suid-Afrika se saak teen Israel by die Internasionale Geregshof moet antwoord,” sê Kleynhans.
Hy stel ses eise voor wat Trump aan Ramaphosa kan voorhou as voorwaardes vir enige toekomstige gunstige handelsooreenkomste tussen Suid-Afrika en die VSA:
- ’n Einddatum vir rassewetgewing
’n Duidelike tydlyn moet vasgestel word vir die afskaffing van alle vorme van rassegebaseerde wetgewing, insluitend regstellende aksie en SEB. - Erkenning van plaasaanvalle
Die Suid-Afrikaanse regering moet plaasaanvalle amptelik as prioriteitsmisdaad verklaar, en toegewyde en toepaslike hulpbronne daaraan toewys. Ramaphosa moet ook haatspraak teen boere veroordeel. - Wettige selfbestuur vir minderhede
’n Wet moet tot stand kom wat die implementering van artikel 235 van die Grondwet moontlik maak, sodat kultuurgemeenskappe wettiglik selfbeskikking kan nastreef. - Terugkeer na ’n onverbonde buitelandse beleid
Die regering moet sy ideologiesgedrewe buitelandse alliansies met lande soos Rusland en Iran herevalueer en hom tot ’n gebalanseerde buitelandse beleid verbind wat vrede bevorder. - Beskerming van Afrikaanse enkelmediumskole
Artikels 4 en 5 van die omstrede Bela-wet moet teruggetrek word. Daar moet ’n duidelike verbintenis wees tot die beskerming en behoud van enkelmedium- Afrikaanse openbare skole. - Privaat eiendomsreg moet beskerm word
Die Onteieningswet moet herroep word. Daar moet ’n grondwetlike verbintenis tot privaat eiendomsreg wees en enige onteiening moet regverdig vergoed word teen markwaarde.