
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Radio kraai steeds koning
Deur Ané Janse van Rensburg
Op Wêreldradiodag wat jaarliks op 13 Februarie gevier word, word ʼn geleentheid geskep om radio as ʼn kommunikasiemedium te eer. Die Kommunikasie- en Bemarkingnetwerk erken radio se uitgebreide deugde en voortdurende krag in die diens wat dit lewer.
In 2024 staan radio nog trots as een van die land se geliefkoosde saam-luister-en-gesels-platforms. Met die onophoudelike ontwikkeling en vooruitgang van digitale platforms, vra sommiges of radio nog ʼn relevante medium is. Die antwoord: beslis!
Johan Roos, organiseerder van Solidariteit se Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, sê dat radio ʼn kragtige kommunikasiehulpmiddel bly wat onmisbaar in die moderne samelewing is. “Dit bied ‘n direkte en intieme verbinding met luisteraars in alle gemeenskappe, sonder enige beperkings op toegang.”
Op Leighton Media skryf Bob Leighton oor die redes waarom radio vandag steeds relevant is, en nog lank sal wees.
Musiek is ʼn universiële taal
Radiostasies bied maklike toegang tot ʼn wye verskeidenheid musiek. Dit is hier waar daar erkenning gegee word aan die land se musikale talent, en verskillende teikengehore kan aan verskillende vorms van musiekvermaak blootgestel word. Musiek is die universiele taal wat almal verstaan, en dit beskik oor die vermoë om aan enige situasie lewe te gee, hetsy in jou kar, kombuis of die winkels.
Advertensies se gunstelingplatform
Nie net is radio op vermaak gefokus nie, maar dit het ook ʼn sterk sakebrein. Om jou onderneming of dienste oor die radio bekend te stel, is een van die maklikste maniere om jou onderneming of dienste sigbaar in die gemeenskap te maak. Dit leen homself tot ʼn ander tipe kreatiwiteit om die luisteraars se aandag te trek, en dit verseker dat die advertensie ’n groot teikengehoor bereik. Advertensies oor die radio is ook doeltreffend omdat dit so baie herhaal word en die boodskap die gehoor se ore meer as een keer bereik.
Groter betrokkenheid by luisteraars
Radio het ontwikkel vanaf ʼn eenrigting-kommunikasiemedium en neem nou ʼn meer interaktiewe aard aan. Luisteraars kan vandag inbel en deelneem aan gesprekke en debatte, of hulle kan selfs aan kompetisies deelneem. Radioprogramme fasiliteer gesprekke en hou die luisteraars se aandag, en wys op so ’n manier dat hulle ook na hul gehoor wil luister. Radio verander vandag die dinamika en maak van luisteraars aktiewe deelnemers aan radioprogramme.
Radio-aanbieders het al die kuns bemeester om verhoudings met hul gehoor te bou. So skep hulle ’n platform wat die harte van luisteraars aanraak en kan hulle ’n gevoel van bekendheid skep.
Radio hou aan groei
Radio mag dalk uit toentertyd kom, maar dit bly op hoogte van die jongste ontwikkelings en dit bly relevant ten opsigte van die behoeftes van luisteraars, wie se behoeftes ook besig is om te verander. Radio se inhoud het deur die jare saam met die luisteraars gegroei, en dit is nou selfs op verskillende platforms beskikbaar. Met aanlyn webtuistes, potsendings en sosiale media, is radio nou meer byderwets as ooit tevore!
Impak op die gemeenskap
Die impak wat radio op ʼn gemeenskap kan hê, is onmiskenbaar. Met programme en inisitiewe wat spesifiek op liefdadigheid gerig is, kan luisteraars betrokke raak om die radiostasies by te staan in hul pogings om ʼn verskil te maak.
Buiten die liefdadigheidsfunksie wat radio’s vervul, is die normatiewe doel van ʼn radiostasie of -program om die gemeenskap te voer met inligting, nuus en kennis. Só word die luisteraars ook bemagtig met waardevolle inligting oor onmiddellike gebeure, aktuele sake, politiek, sport, en so meer.
“Die veerkragtigheid van radio is inderdaad ongeëwenaard; dit bereik mense in afgeleë gebiede en bied betroubare inligting, vermaak en nuus in tye van krisis. Die unieke krag van radio lê in sy vermoë om emosies te wek, verhale te deel en gemeenskappe te verenig. In ‘n era van tegnologiese vordering en oorvloedige media-opsies bly radio ‘n onmisbare brug na die harte en gedagtes van luisteraars regoor die wêreld,” sê Roos.
Al is radio een van die oudste kommunikasiemediums, is daar geen twyfel oor sy relevansie in vandag se tyd nie. Van toeka tot nou, radio kraai steeds koning!
Skakel vandag in by Solidariteit en lees meer oor gebeure soos díé wat relevant is tot jou beroepsnetwerk.