Fotokrediet: Unsplash
Gekopieër
“Red Agoa!” Solidariteit maak voorstelle oor ras aan SA en VSA-regerings bekend
Solidariteit het vandag ʼn skikkingsvoorstel aan die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse regerings gemaak oor Suid-Afrika se rasbedeling. Die voorstelle is deel van ʼn groter veldtog om te verseker dat Suid-Afrika nie deur die Withuis as begunstigde land uit die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) -ooreenkoms geskop word nie.
Volgens Solidariteit is daar bevestiging dat die Withuis in ʼn proses is om Suid-Afrika en ander Afrika-lande se deelname aan Agoa te heroorweeg. ʼn Aankondiging hieroor word voor of op 1 November verwag.
Solidariteit is ernstig bekommerd dat die verswakkende verhouding tussen dié twee lande, en die Suid-Afrikaanse minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Ronald Lamola, se uitsprake oor die Amerikaanse ambassadeur die afgelope naweek, die risiko dat Suid-Afrika uit Agoa geskop kan word, drasties verhoog.
“Die volgende vier weke is van kritieke belang om te verseker dat Suid-Afrika steeds ʼn begunstigde land is nadat die Agoa-ooreenkoms onlangs vir nog twee jaar verleng is. Een van die onopgeloste geskilpunte tussen die twee lande is juis Suid-Afrika se rasbedeling,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.
Die Solidariteit Beweging, waarvan Solidariteit en AfriForum deel is, het die afgelope jaar verskeie gesprekke met die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse regerings gevoer.
“Suid-Afrika se rasbedeling is indringend met die twee regerings bespreek. Solidariteit se mening is dat rassewette nie meer ʼn plek in Suid-Afrika het nie. Ons glo egter, uit wat ons in die gesprekke wys geraak het, dat ons skikkingsvoorstelle iets is wat beide regerings kan aanvaar,” sê Hermann.
Die skikkingsvoorstelle sluit in dat Suid-Afrika se rasbedeling oor ʼn tydperk uitgefaseer word soos bepaal deur internasionale konvensies. Solidariteit stel 2030 as teikendatum voor.
In hierdie oorgangstydperk stel Solidariteit ook voor dat ekwiteit-ekwivalente programme op ʼn nie-rassige basis as plaasvervanger vir eienaarskap kan dien. Dit sal ook ʼn antwoord vir Amerikaanse maatskappye wees. Die skikking stel ook nie-rassige werknemer-aandeelhoudingsprogramme as ʼn voorkeur-eienaarprogram voor.
Tydens die proses van uitfasering moet die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering, wat onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) bereik is, oor ras in die werkplek as regulasies gepubliseer word. Dié ooreenkoms bepaal onder andere dat ras nie die enigste maatstaf vir aanstelling of bevordering mag wees nie, dat niemand op grond van ras afgedank mag word nie en dat vaardighede in ag geneem moet word.
Die skikkingsvoorstelle maak ook voorsiening daarvoor dat die regulasies wat aan die minister magte gee om rassekwotas op sektorale vlak vas te stel op die ys geplaas word tot litigasie daaroor afgehandel is.
Verder stel die skikking voor dat die uitfasering daarmee gepaard gaan dat alle jongmense wat ná 1994 gebore is, asook alle persone wat ʼn inkomste onder ʼn spesifieke inkomstedrempel verdien – ongeag ras – as deel van die aangewese groep gesien sal word.
Volgens Hermann is dit uit Solidariteit se gesprekke met die Amerikaanse regering duidelik gestel dat Suid-Afrika se rasbedeling gesien word as ʼn struikelblok vir Amerikaanse handel en belegging.
“Dit word ook nie as ʼn erkende arbeidsregpraktyk geag nie. Hierdie punte is vereistes vir voortgesette behoud van Agoa-voordele,” sê hy.
Hermann beklemtoon ook dat die uitvoerende bevel van president Trump van 7 Februarie 2025 na regeringsbeleide verwys wat daarop gerig is om gelyke geleenthede in indiensneming af te takel. Suid-Afrika se rasbedeling is ook een van die vyf versoeke van die Amerikaanse regering om handelsverhoudinge tussen die lande te herstel.