loading
Mediaverklarings
1 jaar gelede
regspraktisynsraad-vertrap-inheemse-tale-in-sa

Foto Krediet: Verskaf

Regspraktisynsraad vertrap inheemse tale in SA

Solidariteit verwerp die Regspraktisynsraad (RPR) se poging om sy eie belange bo die belange van regslui in die algemeen en veral die belange van toekomstige regslui te stel deur die afskaffing van Afrikaanstalige toelatingseksamens vir kandidaatprokureurs.

Die Solidariteit Regsnetwerk het geen reaksie van die RPR ontvang nie ná die netwerk se onlangse skrywe aan die raad waarin hy onder meer versoek om met die RPR in gesprek te tree.

Die Solidariteit Regsnetwerk veroordeel die “slegs Engels”-beleid vir prokureurs-, notariële en akte-eksamens van die RPR, waarop daar in Desember sonder konsultasie met belangegroepe in die regswêreld besluit is, ten sterkste.

Riaan Visser, hoof van die Solidariteit Regsnetwerk, sê dit kom neer op ʼn blatante vertrapping van Afrikaans as inheemse taal.

“Dit kan selfs as ʼn vertrapping van ander inheemse tale ook beskou word. Pleks daarvan dat die RPR met ywer ook daarna mik om eksamens in ander landstale aan te bied, word alles weereens slegs in Engels gedoen en word net Engels-moedertaalsprekers daardeur gerespekteer.

“Die minagting van spesifiek Afrikaans noop Solidariteit om te waarsku dat hierdie irrasionele besluit nie geduld sal word nie. Die RPR het trouens ʼn verantwoordelikheid om Afrikaans en ander tale binne die konteks van die reg te beskerm en te versterk,” sê Visser.

Solidariteit se Regsnetwerk rig hiermee ʼn ultimatum aan die RPR om onmiddellik met die netwerk in gesprek te tree indien die RPR verdere stappe wil vermy.

“Ons beklemtoon dat ons bereid was, en steeds bereid is, om met die RPR te vergader om met die raad in gesprek te tree oor die skynbaar eensydige afskaffing van Afrikaans.

“Twee weke het verloop sedert ons aanvanklike skrywe aan die RPR wat klaarblyklik op dowe ore geval het,” sê Visser.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel