Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Sagte vaardighede in die KI-era
Deur Karen Waldeck
In ons daaglikse lewens waar KI die een na die ander take oorneem, bly daar steeds kernvaardighede wat masjiene eenvoudig nie kan vervang nie. Jong werkendes en studente wat binnekort hulle voete in die werkplek gaan sit, moet verstaan dat hierdie sagte vaardighede meer gewild en waardevol as ooit is. Werkgewers kyk deesdae nie meer net na tegniese vaardighede nie, maar ook menslike eienskappe soos aanpasbaarheid, emosionele intelligensie en kreatiewe probleemoplossing – die eienskappe wat jou as individu laat uitstaan en waarde toevoeg wat KI nie kan naboots nie.
Aanpasbaarheid is die sleutel tot volhoubare sukses
Werkgewers kla gereeld oor ʼn gebrek aan aanpasbaarheid by jong werkers, ʼn eienskap wat in ʼn wêreld van konstante tegnologiese vooruitgang lewensbelangrik is. KI en outomatisering dwing ondernemings om vinnig op nuwe neigings en gereedskap in te speel. Jong werkendes wat aanpasbaar is, toon bereidwilligheid en dat hulle regstaan om nuwe maniere van werk aan te leer, selfs al beteken dit dat hulle dikwels uit hulle gemaksone moet beweeg.
Aanpasbaarheid beteken egter nie net dat jy nuwe sagteware vinnig kan baasraak nie – dit behels ook die vermoë om werkende rolle te verander en nuwe maniere van werk uit te dink. ʼn Studie deur Deloitte wys dat werkers wat hoogs aanpasbaar is, ʼn groter kans het om bevorder te word en ʼn positiewe impak op die organisasie te maak.
In ʼn KI-gedrewe wêreld is dit emosionele intelligensie wat ʼn mens van ʼn masjien onderskei. Emosionele intelligensie behels die vermoë om jou eie emosies en dié van ander te verstaan, te bestuur en gepas op te tree. Dit is ʼn waardevolle vaardigheid, veral in werksomgewings waar spanwerk en kliëntediens van kardinale belang is. Jong mense moet leer om aan te voel wanneer iemand ondersteuning nodig het of wanneer ʼn span se energie begin daal. Emosionele intelligensie is die “sagte” krag wat jou onontbeerlik maak in jou rol.
Kreatiewe probleemoplossing
Met KI wat roetine-take doeltreffend uitvoer, het mense se kreatiewe denke en probleemoplossingsvermoë ʼn groter rol as ooit tevore in die werkplek begin speel. Kreatiewe probleemoplossing help werkers om oorspronklik oor uitdagings te dink en oplossings te vind wat dalk nie in ʼn handboek staan nie. KI kan vinnige berekeninge doen, maar kreatiwiteit en oorspronklike denke is vaardighede waaroor net mense beskik.
Die waarde van voortgesette leer vir jong werkendes
As jy nou in die beginstadium van jou loopbaan is, dink aan sagte vaardighede as boustene vir jou toekoms. Die waarde van voortgesette leer kan nie onderskat word nie, veral in ʼn era waar verandering konstant ʼn realiteit is. Kursusse in emosionele intelligensie, kreatiewe denke en aanpasbaarheid kan vir jou ʼn voorsprong bo ander gee, wat jou onontbeerlik maak in jou werkplek. Solidariteit se voortgesette leer-aanbod bied ʼn verskeidenheid kursusse wat jou help om hierdie vaardighede te ontwikkel en só by te dra tot jou loopbaansukses – en dit is gratis vir ons lede!
Jong werkendes kan ook na mentorskapgeleenthede kyk, waar hulle kan leer hoe om sagte vaardighede in die praktyk toe te pas en waardevolle lesse by ervare kollegas op te doen. Mentorskap bied ʼn veilige ruimte vir jong mense om hulle selfvertroue en vermoëns te versterk, en terselfdertyd die sagte vaardighede te ontwikkel wat KI nooit sal kan vervang nie.
ʼn Menslike element in ʼn KI-wêreld
Ons kan seker wees dat sagte vaardighede soos aanpasbaarheid, emosionele intelligensie en kreatiewe probleemoplossing ʼn kern rol sal bly in die toekoms van werk. Jong werkendes wat hierdie vaardighede aktief ontwikkel, berei hulleself voor om die menslike element in ʼn KI-wêreld te verteenwoordig.
Werkgewers soek nie net volgers nie; hulle soek leiers – mense wat kan innoveer en inspireer.
As jy dus jou plek in die werkplek wil volstaan, bou aan jou sagte vaardighede en hou die menslike kant lewend. Dit is dié waarde wat werkgewers bly soek – en net jy as mens kan dit bied.
Sluit aan by Solidariteit se netwerk van werk, waar jy kan leer, waar jy jou netwerk kan uitbrei en nuwe geleenthede vir jou loopbaan kan ontdek. Lees hier wat ʼn Solidariteit-lidmaatskap vir jou as jong werkende bied.