loading
Artikels
1 jaar gelede
sagv-die-tuiste-van-honde-wat-n-diens-lewer

Foto Krediet: Solidariteit

SAGV – die tuiste van honde wat ʼn diens lewer

Deur Maryna Eksteen

Sig is verreweg een van die belangrikste sintuie vir enige mens. Ons maak ons oë in die oggend oop en ons kan die wêreld in kleur sien. Ons kan ons geliefdes sien en ons kan onafhanklik lewe. Dink jouself in die volgende situasie in: Jy gaan slaap en voor jy in die bed klim, kan jy die lampie se skakelaar sien en alles anders wat jy as vanselfsprekend aanvaar. Die volgende oggend word jy wakker en alles is donker om jou. Jy word oorval deur angs en jou hele wêreld gaan staan in daardie oomblik.

Die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging (SAGV) verskaf dienste aan mense wat visuele, fisieke of ontwikkelingsbehoeftes het deur opgeleide gidshonde, dienshonde en outisme-ondersteuningshonde of honde wat help met oriëntasie en mobiliteit tot hulle beskikking te stel. Dit is danksy hierdie organisasie wat mense weer ʼn mate van normaliteit in hulle lewe kan ervaar.

Die span van Solidariteit se mediese beroepsnetwerke het op 24 Oktober 2023 by die SAGV gaan kuier om vir ʼn dag in ʼn siggestremde persoon se skoene te klim.

Die SAGV fokus op drie hoofareas om die lewe vir mense met siggestremdheid en/of ontwikkelingsbehoeftes te vergemaklik. Die SAGV het ten doel om visueel en liggaamlik gestremde mense in ons samelewing in staat te stel om hulself te bemagtig en hul onafhanklikheid te herwin.

Ontwikkelingsprogram vir dienshonde

Hierdie program maak dit vir mense met ʼn fisieke gestremdheid moontlik om gebruik te maak van dienshonde wat hulle getroue hulpverlener word. Hierdie honde word opgelei om alledaagse take te verrig soos om te help met die oop- en toemaak van deure, die aanskakel van ligskakelaars en om op bevel te blaf. ʼn Dienshond is sowel ʼn werkshond as ʼn getroue metgesel.

Anders as dienshonde is gidshonde werkshonde wat opgelei word om mense te help om as persoon met ʼn gesiggestremdheid onafhanklik oor die weg te kom. Gidshonde word volgens ʼn persoon se leefstyl aan ʼn persoon toegewys. Gidshonde word geleer hoe om struikelblokke te vermy, te draai, te loop en om oriëntasiepunte soos ʼn hysbak, deure en sypaadjies te vind en die gesigsgestremde daarnatoe te lei. Dit verg natuurlik intensiewe opleiding. ʼn Gidshond is nie net ʼn werkshond nie, maar is ook ʼn getroue metgesel wat deel word van sy hanteerder se familie.

Outisme-ondersteuningshonde is honde wat spesiaal gekies en opgelei word vir kinders met outisme. Dié kinders het byvoorbeeld ʼn neiging om weg te hardloop wanneer hulle aandag afgelei word en dit is waar so ʼn hond ʼn belangrike rol vervul. Hierdie honde is terapiehonde maar ook ʼn wonderlike troeteldier en metgesel vir outistiese kinders. Die honde word deel van die gesin.

Oriëntasie en mobiliteit

Soms moet ʼn siggestremde persoon sonder ʼn hond oor die weg kom en daarom lei die SAGV ook mense by hulle oriëntasie- en mobiliteitkollege op. Hierdie inisiatief het reeds in 1974 begin en staan vandag nog sterk. Hier leer persone hoe om met geld te werk en hoe om rande en sente van mekaar te onderskei, hoe om met ʼn wit kierie te loop, koffie te skink en om talle ander alledaagse take te verrig.

Solidariteit se span wat met die mediese beroepsnetwerke gemoeid is, het die kollege besoek en het van hierdie take verrig terwyl hulle geblinddoek was om hulle so vir ʼn rukke in ʼn gesiggestremde se situasie in te leef.

“Wanneer iets soos visie van jou weggeneem word, verander jou hele wêreld en daarom is dit vir die mediese beroepsnetwerke baie belangrik om bewusmaking rondom siggestremdheid te skep. Ons aanvaar sig so maklik as vanselfsprekend en wat die SAGV doen is merkwaardig en lewenveranderend,” sê Peirru Marx, netwerkkoördineerder van die mediese sektor by Solidariteit.

Indien jy nog nie ʼn lid van Solidariteit is nie, klik hier  en raak deel van jou beroepstuiste waar dokters, aptekers en verpleegkundiges hul werk vry, veilig en voorspoedig kan doen.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel