
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
SAMRK-verslag: Barkhuizen in geheel vrygespreek; LUR skend menseregte
Solidariteit het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se vryspreking van Elana Barkhuizen, sowel as die sterk veroordeling van die optrede van Noordwes se voormalige LUR vir onderwys, Sello Lehari, verwelkom.
“Volgens die verslag is die LUR skuldig aan die skending van Barkhuizen se reg op privaatheid, haar regte op behoorlike proses, veiligheid, vryheid van beweging en assosiasie, en boonop het hy haar menswaardigheid gekrenk,” verduidelik dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Barkhuizen, toe ʼn onderwyseres van Laerskool Schweizer-Reneke, is op 9 Januarie 2019 in ʼn nasionale herrie gedompel nadat ’n foto, waarop vier swart en agtien wit leerders wat by aparte tafels in ’n klaskamer sit, wyd in die media sowel as op sosialemediaplatforms gedeel is. Solidariteit voer aan dat verskeie politici daarna rassespanning aangewakker het deur die voorval sonder enige verdere gegewens as rassisties te bestempel.
Volgens Solidariteit is Barkhuizen en haar gesin selfs gedwing te verhuis weens ernstige kommer oor hul veiligheid nadat Lehari haar naam in die openbaar blootgelê het.
Barkhuizen is op 10 Januarie 2019 sonder enige verduideliking in kennis gestel dat sy geskors is. Solidariteit het later, namens Barkhuizen, die arbeidshof in Johannesburg genader wat bevind het dat Barkhuizen se skorsing onwettig is. Die hof het voorts beveel dat haar skorsing met onmiddellike effek opgehef word.
Die jongste verslag vanaf die SAMRK het ondermeer bevind dat alle bewerings dat Barkhuizen óf die skool onbillik teen leerders gediskrimineer het, nie deur feite gestaaf word nie.
“Elana en haar gesin is deur hel in daardie tyd; ʼn hele gemeenskap is verwoes deur die oorhaastige, populistiese optrede van opportunistiese politici – waarvan die voorste Lehari self was. Ons is absoluut verheug daaroor dat sy nou geheel en al vrygespreek is, maar ongelooflik jammer oor die trauma wat sy en haar geliefdes moes verduur,” verduidelik Hermann voorts.
Solidariteit het verder gestel dat ondanks die geweldige lang gesloer met die SAMRK-verslag is dit goeie nuus dat Lehari uiteindelik tot verantwoording geroep is oor sy skandelike gedrag tydens die gebeure.
Die verslag het ook bevind dat die gewelddadige protesaksie by die skool onderrig en leer ontwrig het en daarom het die betogers die leerders se reg op basiese onderrig benadeel. Hulle het ook die leerders in gevaar gestel wat in stryd is met hul reg om nie hul welstand, opvoeding en ontwikkeling in gedrang te bring nie.
“Elana Barkhuizen was dapper genoeg om teen die departement en die histeriese media terug te baklei. Populistiese politici en die media sal danksy haar, nou twee keer dink voordat hulle gewone mense se lewens verwoes met vals aantygings van rassisme,” sluit Hermann af.
Om die volledige verslag van die SAMRK te lees, klik hier.