loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
sapd-lid-vertel-van-vernedering-na-ontslag

Foto Krediet: Solidariteit

 ‘Met leë hande voor my kleinseun op Kersdag’ – SAPD-lid vertel van vernedering ná ontslag

Deur Robin-Lee Maré

André Simpson se stem breek en sy hande bewe wanneer hy praat oor die pad wat hy die afgelope jare moes stap.

Eers onlangs, danksy Solidariteit se ingryping en ʼn uitspraak van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), het hy gehoor dat die vyf jaar sonder ʼn werk en ʼn inkomste uiteindelik iets van die verlede is.

Hy vee ʼn traan af, kyk weg en sê ná ʼn oomblik se stilte: “Ek het nooit gedink dit sal ék wees nie.”

Simpson is ʼn pa en ʼn oupa, en kon homself vir jare ook ʼn kaptein in die SAPD se paneelklopperafdeling in Silverton noem. Al drie was titels wat hy met trots gedra het. Hy is ʼn man met spesialiskennis, en was verantwoordelik vir die werkswinkel en die meegaande administrasie tydens jare wat hierdie afdeling kritiek onderbeman en met werk oorlaai was.

Toe, in 2021, verander sy lewe egter onherroeplik.

André het met Solidariteit se Robin-Lee Maré oor sy ervaring gesels.

Arrestasie en vernedering

Hy vertel hoe hy na die generaal se kantoor ingeroep is ná bewerings van wangedrag teen hom geopper is. Hy het sy volle uniform aangetrek en sy range blink gepoets.

“Want jy gaan sien mos die generaal!” sê André. Maar wat daarna gebeur het, sou hom vir jare lank nagmerries gee.

“Toe ek instap, sê hulle vir my ek moet my wapen en my belt afhaal en oorhandig,” vertel hy.

Kaptein André Simpson is toe, op grond van aantygings van bedrog en geldwassery, summier in hegtenis geneem.

“Nog erger was toe hulle my range so voor my oë afhaal. Vir ʼn polisieman is dit verskriklik erg. Ek het met trots, met bloed en sweet, gewerk om tot kaptein te vorder,” sê hy.

Die arrestasie self beskryf hy as “vernederend op elke moontlike vlak”. Ná sy vrylating op borgtog moes hy vir amper ses jaar sonder ʼn salaris oorleef. Sy lewe was aan skerwe.

Hoewel ʼn jarelange ondersoek later bevind het dat André verkeerdelik by die tenderbedrog van ʼn hooggeplaaste SAPD-lid betrek is, het dit hom nie destyds van ernstige gevolge gespaar nie.

Die donkerste tyd: Kersfees

Dit was egter die daaropvolgende Kerstyd wat sy siel die hardste gekneus het. Hy was saam met familie, maar sonder ʼn inkomste, en steeds onder die gewig van vernederende, ongegronde aantygings waarvan hy eers later ten volle vrygespreek sou word.

“Almal deel geskenkies vir mekaar uit. Ook ek as oupa kry ʼn geskenkie, maar ek het nie eers ʼn dooie sent gehad om vir my kleinseun ʼn geskenkie te koop nie. Dit is ʼn soort gevoel wat ek vir niemand kan beskryf nie – daardie vernedering,” sê hy.

Die finansiële verlies het elke hoek van sy lewe binnegedring: sy gesin, familie, vriende en selfwaarde. Sy bejaarde pa se gesondheid het agteruitgegaan. En Simpson, magteloos, leeg en gebreek moes probeer aanhou voortgaan.

Sommige dae wou hy net in die bed bly lê. “Maar jy kán nie,” sê hy. “Daar is gras wat gesny moet word, honde wat kos moet kry. Die lewe stop nie net omdat jou loopbaan in duie stort nie.”

Ware en valse vriende

Een van die hardste lesse was om te sien wie in jou lewe teenwoordig bly, en wie verdwyn.

“Ek het baie vriende deur hierdie proses verloor. Mense van wie jy dit nooit sou verwag nie. Later sê hulle net: ‘Jammer man, ek het jou nommer verloor,’” sê hy, en druk ʼn sneesdoekie voor sy mond.

Maar dan straal sy oë skielik warm.

“Daar was darem die uitskieter-vriende. Hulle het nie direk geld in my rekening betaal nie, want hulle wou my nie verder verneder nie. Hulle betaal eerder in my ma se rekening en dan betaal sy dit vir my in. En soms is daar sommer R5 000, of R10 000 in my rekening.”

Hy glimlag sag. “Vir hulle is ek ewig dankbaar.”

Sy familie het hom ook ondersteun met regskostes – iets wat hom staande gehou het.

ʼn Lig in die tonnel: Solidariteit

Toe Simpson uiteindelik vir Solidariteit nader, het hy gevoel asof hy ʼn veilige hawe binnestap.

“Ek is van 2010 af ʼn lojale lid. Die eerste keer toe ek Solidariteit se gebou binnegaan vir my konsultasie, het ek dadelik tuis en gerus gevoel.”

Sy litigant, Andries Herbst, het hom deur elke stap van die KVBA-proses begelei.

“Herbst was regtig ʼn yster tydens die KVBA-verrigtinge,” sê hy trots. “Ek was eintlik stomgeslaan in sy vermoë met dié dinge.”

Gedurende die KVBA-verrigtinge het die waarheid stelselmatig na vore gekom: Daar was geen bewyse teen Simpson nie. Die SAPD se eie getuie het erken dat die klagte teen hom nooit ondersoek is nie en dat dit geen meriete gehad het nie, en dat die dissiplinêre voorsitter in die saak sélf ondersoek word, maar tog voortgegaan het om die verhoor te lei.

KVBA-kommissaris Stapelberg het uiteindelik bevind dat die SAPD onregverdig opgetree het. Simpson se ontslag was prosedureel én substantief onbillik. Hy moes met onmiddellike effek heraangestel word, en die SAPD is beveel om sy volledige agterstallige salaris aan hom uit te betaal.

Hoewel die saak steeds voor die hooggeregshof moet kom, baan die uitspraak reeds die weg vir André en ander kollegas wat onregmatig geïmpliseer is.

Toe hy die uitspraak hoor, het hy net gehuil. “Dit was eers bietjie onwerklik. Dit het so twee dae gevat om in te sink.”

ʼn Lewe verander, en wysheid het oorgebly

Vyf jaar se stryd het sy lewensbeskouing onherroeplik verander.

“Wat R3 000 vir baie mense is, is ʼn R100 vir my. Ek dink nie twee keer nie, maar vier keer voordat ek geld spandeer,” sê hy ernstig.

Sy raad aan ander wat deur só ʼn beproewing moet gaan: “Moenie gaan lê nie. Selfdissipline is belangrik. Praat daaroor – met jou familie, jou vriende, en die Here. Moenie alles opkrop nie. Klou vas aan jou geloof. En as jy toegang het tot spesialiskennis soos dit wat Solidariteit jou bied, gebruik dit!”

Simpson se verhaal is een van pyn en vernedering, maar ook vasbyt en uiteindelike geregtigheid. Terwyl hy die stukke van sy lewe en loopbaan stadig maar seker optel, sien hy dankbaar uit na ʼn Kersfees saam met sy familie, en na die eenvoudige, maar kosbare voorreg om dié keer ʼn beskeie Kersgeskenk vir sy kleinseun te kan gee.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel