Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Sê net ‘ja’… die geheim van lekker studentejare
Deur Chereé Meyer
Jou studentejare is die lekkerste jare van jou lewe.
Jy gaan nie sommer weer so vry wees, so baie tyd hê of so baie dinge kan doen sonder om ʼn salaris te verdien nie.
Hoe haal ʼn mens die beste uit hierdie tyd van jou lewe?
Baie mense sal vir jou sê jy moet hard leer om ʼn goeie werk te kry en vir jou ʼn toekoms te bou. Ek verskil van daardie mense, want om ʼn toekoms te bou gaan oor soveel meer as om goeie punte op universiteit te kry. Om vir jouself ʼn goeie toekoms te bou, moet jy as ʼn geheel ontwikkel.
Ja, goeie punte is belangrik, maar dit is nie al wat saak maak nie. Ek het hier begin skryf en probeer terugdink aan die lekkerste deel van my eie studentejare. Dit is moeilik om dit op te som, want daar is soveel onvergeetlike oomblikke in ʼn mens se studentejare – van joolvlotte bou, sterre kyk waar jy nie mag nie, swem in die dam, na die sonsondergang kyk en selfs die gangvergaderings wat ek daardie tyd verpes het.
Die enigste ding wat al die goed wat ek gedoen het, in gemeen het, is die feit dat ek deelgeneem het, en dat ek elke geleentheid wat daar was aangegryp het en probeer het.
Ek het vir myself gesê, daar is altyd genoeg tyd om deel te neem, selfs al beteken dit dat jy deurnag moet leer vir ʼn toets óf dat jy deurnag moet help verf aan jou koshuis se Canvas-skildery en dan die volgende oggend steeds half agt opdaag vir klas.
Daar is altyd tyd, en hoe meer jy deelneem, hoe meer tyd het jy om selfs nog dinge te doen.
Daar is by enige universiteit verskeie geleenthede om betrokke te raak. Jy kan in komitees of studentestrukture dien, aan studenteverenigings deelneem, by sport betrokke raak, en as jy in ʼn koshuis bly, gaan daar byna daagliks lekker lawwe aktiwiteite wees wat jy kan doen vir die pret daarvan.
Elke een van die dinge waarvoor jy “ja” sê terwyl jy ʼn student is, gaan sorg vir goeie herinneringe! Selfs meer as die goeie herinneringe, dit gaan jou as mens ontwikkel. Jy gaan vriende maak, jy gaan jouself leer ken en jy gaan ʼn klein deel van die lewe leer ken. Nie alles is altyd in daardie oomblik lekker nie, maar ek belowe, wanneer jy eendag terugkyk, dan gaan jy wens jy kan dit weer doen.
Ek wens ek kan weer ʼn gangvergadering bywoon.
As jy my vra, is die geheim vir ʼn goeie studentelewe om soveel te doen as wat jy kan.
Waarvoor wag jy? Sê JA en maak die meeste van jou studentejare!