loading
avatar
Artikels
8 uur gelede
sewe-uit-tien-werkernemers-bang-hulle-is-hul-werk-binnekort-kwyt

Foto Krediet: Okay Deer

Sewe uit tien werkernemers bang hulle is hul werk binnekort kwyt

Deur Charl Oberholzer

ʼn Onlangse studie (ADP Research’s People at Work 2026) dui aan dat slegs 28% van werknemers veilig in hul werk voel en glo dat hulle nie binnekort hul poste gaan verloor nie. Die uitwerking daarvan is eintlik onberekenbaar. Werknemers wat veilig oor hul werkposisie voel, is ses keer meer gemotiveerd en verbind tot die werk wat hulle doen en drie keer meer produktief. Sulke werknemers is ook 50% minder geneig om te sê dat hulle van werk wil verander.

ʼn Genadelose ekonomie

Die onsekerheid onder werknemers vererger wanneer die ekonomie onder druk is, en dit is tans die werklikheid vir baie werknemers in Suid-Afrika. Dit is sigbaar in die hoë brandstofpryse, waar verbruikers duidelik hul besteding begin beperk. Data van Discovery Insure toon dat daar in Mei 23% minder aan brandstof bestee is en in April selfs 35% minder.

Mense reis dus minder en perk hulself in. Voorheen was die fluktuasie in brandstofbesteding van maand tot maand gemiddeld net 1%. Verbruikers voel die finansiële druk, en dit maak hulle onseker oor die toekoms.

Benewens ekonomiese faktore is dit ook duidelik dat stres en werkdruk bydra tot werknemers se onsekerheid oor of hulle die druk op die lang duur sal kan hanteer. Sowat 30% van werknemers sê hulle spandeer tussen 6 en 15 ekstra, onbetaalde ure by die werk, terwyl 17% aandui dat hulle tot 16 ure ekstra per week werk.

Leer is die ligpunt

Een ligpunt wat die navorsing toon, is dat voortgesette leer die duidelikste manier is waarop werknemers se vertroue herstel kan word. Mense wil voel dat hulle waarde toevoeg en dat hul vaardighede uitgebou en benut word.

As jy ʼn ligpunt in hierdie ekonomiese moeilike tyd nodig het, besoek gerus Solidariteit-aanlyn en voltooi van die honderde leerkursusse wat gratis vir lede beskikbaar is: Klik hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel