
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Sinergie in die werkplek
Deur Ané Janse van Rensburg
Net soos in ʼn byekorf, is sinergie en harmonie noodsaaklik in enige werksomgewing om seker te maak dat al die “bye” optimaal kan funksioneer. Só ook is dit elke bestuurder se plig om seker te maak dat hulle werksomgewing toegerus is met die nodige instrumente om hierdie sinergie te verwelkom.
Met nog ʼn werk-koffie-sessie, wat deur Solidariteit aangebied is, agter die rug, is daar ʼn heerlike oggend saam Salomien Boshoff, ’n dosent in Ondernemingsbestuur aan Akademia deurgebring. Boshoff het gesels oor die STACK-raamwerk as ʼn metode om ʼn werksomgewing te skep wat arbeidsmagontwikkeling verbeter. Hierdie raamwerk fokus op die identifisering en ontwikkeling van spesifieke vaardighede en bevoegdhede wat nodig is vir bepaalde take binne ʼn organisasie, en dit bring werknemersopleiding in lyn met gewenste uitkomste.
Volgens Boshoff, kan die STACK-raamwerk ʼn individu se reis van betekenis op ʼn holistiese wyse help navigeer, in die rol wat die individu in die werkplek vervul. Hierdie raamwerk kan dan ook gebruik word om ʼn sterk sin van ʼn onderneming se werking te verstaan, deur die uiteensetting van verskillende rolle en die individue wat verantwoordelikheid vat vir die verskillende funksionaliteite binne hulle werkplek.
“Deur ʼn holistiese benadering kan die STACK-raamwerk individue en leiers help om hulle volle potensiaal te ontdek en sodoende soos ʼn byekorf in sinergie te funksioneer. As holistiese optimaal funksionerende individue, kan sosiaal komplekse omgewings transformeer in gebalanseerde en hoogs produktiewe kulture en strukture,” sê Boshoff.
Die raamwerk begin by kennis van die self, waar Boshoff die individue se selfkonsep, selfbeeld, selfkennis en sosiale self ontleed het. “Deur die werklike outentieke weergawe van jouself te wees in elke deel van jou lewe en in alles wat jy doen, gee vir ander mense die ruimte om dieselfde te doen.”
Boshoff het daarna die onderwerp van tegnologie en die gereedskap daaraan verbonde bespreek, en hoe dit in die werkplek benut kan word. Alles oor optimale leer en die ingesteldheid van lewenslange leer is verder bespreek. Daar is ook bespreek hoe elke individu se konteks en kennis in die werkplek in die besigheidsmodel hoort te pas.
“Jy moet vir jou werksmense ʼn plek skep waar hulle verwagtinge kan hê dat daar ʼn goeie uitkoms sal wees, dis hoe hulle leer! Bye vertrou mekaar en leer saam, ons behoort ook so te wees.”
Solidariteit wil saam met jou bou aan ʼn werksomgewing waar jou “bye” mekaar kan vertrou en in sinergie na ʼn groter doel werk. Skakel vandag in by hierdie ondersteuningsnetwerk, skep ʼn gratis Solidariteit-profiel en vind jou plekkie in die korf!