
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Skoolverlatersverslag 2024: Skoliere kies selfs ná hoërskool méér Afrikaans
Afrikaanse matrikulante verkies Afrikaans as onderrigtaal en wil selfs ná hoërskool verder in hulle moedertaal studeer.
Dit is een van die sleutelbevindings van die jaarlikse Skoolverlatersverslag wat Solidariteit se Skoliere-aanbod in samewerking met die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) vandag vrygestel het. Dié navorsingstudie word reeds die afgelope vier jaar onderneem en groeiende deelnamesyfers aan die studie het in 2024 ʼn hoogtepunt bereik met 3 223 matrikulante vanuit 108 skole regoor Suid-Afrika wat aan die studie deelgeneem het.
Meer as 95% van die respondente wat aan die studie deelgeneem het, het aangedui dat hulle moedertaal Afrikaans is.
Die gevolgtrekking uit die studie wat handel oor moedertaalonderrig is duidelik vanuit die navorsing: Die groot meerderheid (78,1%) van leerders voel positief oor Afrikaans as onderrigtaal en dit oortref selfs die persentasie van 73,1% wat in 2023 se studie verkry is.
Slegs 0,9% van die leerders het aangedui dat hulle negatief voel teenoor Afrikaans as onderrigtaal en net 5,6% sê hulle wil graag in Engels of in ʼn ander taal skoolgaan. Die laasgenoemde syfer was met die vorige studie 7,2%.
Meer belangrik was die redes wat leerders vir hulle voorkeur vir Afrikaanse onderrig aangevoer het. Benewens hulle liefde vir die taal en die verbintenis wat dit vir hulle met hulle kultuur en identiteit gee, sien hulle ʼn sterk verband tussen moedertaalonderrig en begrip, en die invloed wat dit op goeie akademiese prestasie het.
Bekendheid met terme en begrippe in veral vakke soos Wiskunde maar ook Fisiese- en Lewenswetenskappe word dikwels as voorbeelde van die voordeel wat moedertaalonderrig jou bied genoem.
Uit die navorsing is dit ook duidelik dat skoolverlaters se keuse van universiteit sterk deur hulle keuse van onderrigtaal beïnvloed word. Diegene wat aan die Universiteit van Pretoria (UP) wil gaan studeer was byvoorbeeld in die studie van 2021 nog 44%, maar het in die 2024-studie tot 22% gedaal.
Volgens Johnell Prinsloo, opsteller van die verslag en onderwysnavorser verbonde aan die SNI, is die groter behoefte aan Afrikaanse onderrig duidelik en stuur dit ook ʼn belangrike boodskap uit.
“Die tendens van Afrikaanse kinders wat toenemend onderrig in Afrikaans soek, beklemtoon dat daar ʼn groter vraag na enkelmedium Afrikaanse onderrig bestaan.
“Die verengelsing van Afrikaanse skole oor die algemeen dwing hierdie kinders dus om teenstrydig met hulle voorkeur in ʼn meertalige skool te moet skoolgaan,” sê Prinsloo.
Prinsloo sê ondanks die toenemende druk op Afrikaanse skole om na dubbelmedium of parallelmediumskole oor te skakel (en uiteindelik te verengels), is daar duidelik genoeg leerders om die huidige aantal Afrikaanse skole volledig te benut.
“Die vraag na Afrikaanse moedertaalonderrig kwyn nie, maar neem toe. Dit is Afrikaanse skole wat wegkwyn. Dit sal dus eerder ʼn toepaslike aanwending van hulpbronne wees om die bou van nóg Afrikaanse enkelmediumskole te prioritiseer, net soos die bou van enkelmediumskole in die ander amptelike tale van die land,” sê sy.
Die Skoolverlatersverslag spreek, buiten moedertaalonderrig, ook verskeie ander temas aan wat die toekomsvisie van die matrikulant peil. Hierdie temas sluit onder andere studierigtings, vakkeuses en vrae oor loopbaanvoorligting in.
Solidariteit sal binnekort ʼn volledige uiteensetting en videobespreking van die Skoolverlatersverslag van 2024 uitstuur.
Sien die verslag hier aangeheg.