
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Slypskool: die brug tussen die klaskamer en die kantoor
Deur Ané Janse van Rensburg
Solidariteit glo dat die ekstra myl een tree op ‘n slag afgelê moet word. Omdat Solidariteit saam met jou die pad van student tot jong werkende stap, is ʼn reeks produkte daargestel om seker te maak dat jy ʼn voorloper in jou beroepsavontuur is!
Solidariteit se Studente-aanbod bied ʼn slypskool aan studente wat hulself vir die wêreld van werk wil voorberei. Hierdie slypskool dien as ʼn leergeleentheid waar die student die gaping tussen die klaskamer en die kantoor kan oorbrug. “Op universiteit sit jy in ‘n klas met honderde ander studente. Wat gaan jou onderskei van die ander wat met presies dieselfde kwalifikasie as jy begin werk soek? ‘n Slypskool is ‘n wonderlike instrument wat op praktykgereedheid fokus en jou ligjare bó ander studente laat uitstaan wat slegs met ‘n kwalifikasie aansoek doen. Nie net verkry jy waardevolle inligting oor die praktyk nie, maar jy kan ook baie vinniger groei in jou eerste pos, want jy hoef soveel minder te leer,” sê Chereé Meyer, organiseerder van Solidariteit se Studente-aanbod.
Solidariteit se Studente-aanbod lui ʼn opwindende toekoms vir slypskole in. Een hiervan wat alreeds sukses behaal het, is die slypskool aangebied deur Solidariteit se Regsnetwerk. Dié slypskool wat daarop gemik is om regsstudente praktykgereed te kry, fokus op ʼn reeks tema’s wat hulle vir die werkswyse van regslui voorberei. Hierdie slypskool hanteer onderwerpe soos konsultasietegnieke, praktykbestuur, saakontleding, die student se skryfvermoë en vele meer.
“Die slypskool is aanlyn beskikbaar. Dit is ontwikkel om skaalbaar te wees en bied deurlopend verrykende werkwinkels. Die slypskool en modules is daarop gefokus om studente en kandidaatprokureurs te bemagtig om ʼn mededingende voordeel tot die beroep te ontvang en om waarde tot die praktyk toe te voeg met kandidaatprokureurs wat meer beroepsgereed is,” sê Riaan Visser, hoof van Solidariteit se Regsnetwerk. Lees hier meer oor die Regsnetwerk se slypskool.
Megan Meyer, LLB student aan Akademia, meen die slypskool het haar geleer dat ʼn mens nooit ophou leer ná universiteit nie en dat ware kennis uit soveel meer as net die inligting in handboeke bestaan. Dit word eerder deur ervaring en leergeleenthede by mentors opgedoen. “Die slypskool leer jou al die praktiese kennis wat jy nie op universiteit leer nie. Dit is ʼn goeie hulpmiddel wat studente kan gebruik om vir hul klerkskap voor te berei. Dit gee studente ʼn voorsprong bo ander wat presies dieselfde graad het, omdat ʼn mens ander kennis opdoen wat jy elke dag as ‘n klerk en prokureur of advokaat gaan gebruik.”
Solidariteit het ten doel om aan studente verrykende geleenthede buite die klaskamer beskikbaar te stel. Deur jou met kennis en voorbereidingsvaardighede te bemagtig, kan jy binne ʼn japtrap uitstaan bo die res van jou medestudente in die klaskamer en later ook in die kantoor.
Sluit vandag nog aan by Solidariteit om in te skakel by groepe soos die Studente-aanbod en Regsnetwerk. Ontsluit ʼn wêreld van moontlikhede en voordele om jou beroep ʼn hupstoot te gee!