Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
4 uur gelede
solidariteit-aan-media24-wys-ons-julle-state-voor-julle-afle

Foto Krediet: ChatGPT

Solidariteit aan Media24: “Wys ons julle state vóór julle aflê.”

Solidariteit is van mening dat die oorsaak van Media24 se bedryfsuitdagings by sy senior bestuur lê en níé by personeel wat nou kragtens ‘n 189A-proses weens swak bestuursbesluite hulle werk kan verloor nie.

Om hierdie rede gaan Solidariteit vra vir volledige blootlegging van Media24 se strategiese en finansiële beplanning, insluitende die vergoedingspakkette van seniorbestuurslede én -redakteurs, om die rasionaal agter die jongste herstruktureringsproses wat tot 126 poste raak te kan beoordeel.

Personeel van gevestigde publikasies soos Huisgenoot, Sarie, Netwerk24, News24, YOU en Weg!/GO! word hierdeur geraak.

Die jongste kennisgewings wat aan personeel uitgereik is verteenwoordig boonop minstens  vierde soortgelyke afleggingsproses binne die afgelope drie jaar by Media24 – ʼn duidelike aanduiding dat strategiese doelwitte wat met die vorige afleggings daargestel is, nie bereik is nie.

“Weereens wil Media24 bekwame joernaliste, fotograwe, bladuitlegkunstenaars en ander personeel die prys vir bestuursfoute laat betaal. Dít terwyl dit duidelik is dat onverantwoordelike bestuursbesluite die maatskappy tot by hierdie punt gebring het,” sê Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit vir die openbare bedryf. 

Hierdie blootlegging sal volgens Solidariteit ʼn aanduiding gee of genoegsame alternatiewe oorweeg is om Media24 finansieel volhoubaar te maak.

Aangesien vorige herstruktureringsplanne nie in die strategiese doelwit geslaag het nie, glo Solidariteit die probleem lê eerder by bestuursvlak as by operasionele vlak.

Om hierdie rede is die blootlegging van finansiële state en selfs die vergoeding van senior Media24-personeel, insluitend redakteurs, relevant tot Media24 se sakemodellering en strategiese oorlewingsplanne.

Solidariteit glo dit is ook op daardie vlak wat roekelose redaksionele besluite geneem word.

“Daardie redaksionele besluite lê nie by die personeel wat nou in die spervuur beland nie. Tog is dit een van die hoofredes waarom lesers vervreem is en intekenaars op die vlug geslaan het.

“In die proses is geloofwaardige joernalistiek deur sommige titels opgeoffer. Daardie geloofwaardigheid gaan nie deur enige herstrukturerings- of konsolidasieproses teruggebring word nie,” sê Cronjé.

Solidariteit staan in hierdie proses vierkantig agter sy lede en die personeel van Media24-publikasies wie se loopbane juis weens bedenklike bestuursbesluite in gedrang is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel