Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit waarsku: Sluiting van Tulbagh-fabriek kan maatskaplike ramp veroorsaak
Die moontlike sluiting van Premier Fruit Products Western Cape (FPWC) se inmaakfabriek in Tulbagh kan in ʼn ernstige maatskaplike tragedie ontaard indien daar nie betyds ʼn oplossing gevind word om die voortbestaan van die fabriek te verseker nie.
Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, is Solidariteit die meerderheidsvakbond by FPWC en sal aktief en konstruktief met alle rolspelers, veral die werkgewer, saamwerk om die fabriek van sluiting te red.
“Ons doel is nie net om die 424 werksgeleenthede te beskerm nie, maar ook die duisende stroomaf- en indirekte werksgeleenthede wat van die fabriek afhanklik is. Bo alles wil ons voorkom dat duisende gesinne, wat op hierdie broodwinners aangewese is, in armoede en onsekerheid gedompel word.”
Verskeie regsgedinge en ander regsprosesse word tans ondersoek om die moontlike sluiting van die inmaakfabriek te voorkom. Omdat FPWC egter ʼn groot deel van sy geblikte vrugte na internasionale markte uitvoer, word die maatskappy se volhoubaarheid ook deur wêreld- ekonomiese en geopolitieke ontwikkelings beïnvloed. Die afname in die wêreldwye verbruik van geblikte vrugte, tesame met Amerikaanse invoertariewe, het ʼn beduidende negatiewe impak op die maatskappy se mededingendheid en volhoubaarheid.
Du Plessis meen benewens die bestaande invoertarief van 15%, het die Verenigde State van Amerika in April 2025 ʼn verdere 30%-tarief ingestel, gevolg deur ʼn bykomende tarief van 12,5% op landbouprodukte.
“Hierdie tariewe, tesame met die onsekerheid oor die voortbestaan van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) ná 31 Desember 2026, plaas die hele Suid-Afrikaanse inmaakvrugtebedryf onder geweldige druk. Dit maak plaaslike uitvoerders toenemend onmededingend in vergelyking met lande wat nie aan soortgelyke tariewe blootgestel is nie.”
Du Plessis benadruk daar sal dringend oplossings gevind moet word en alle rolspelers moet elke moontlike alternatief ondersoek.
“Die mees onmiddellike en doeltreffende oplossing sou egter ʼn politieke een wees, naamlik die sluiting van ʼn handelsooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse regering en die VSA wat die strafheffings op Suid-Afrikaanse uitvoere ophef.”
Volgens Du Plessis sal die amptelike konsultasieproses, wat deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gefasiliteer word rakende die moontlike sluiting van FPWC se Tulbagh-inmaakfabriek, op 6 Augustus ʼn aanvang neem.
“Tydens die eerste konsultasie sal die werkgewer die nodige inligting met die vakbonde deel, wat ons in staat sal stel om ingeligte besluite te neem en haalbare alternatiewe en inisiatiewe voor te stel en te ondersoek.
“Solidariteit sal alles in sy vermoë doen om die sluiting van die fabriek te voorkom en sodoende ʼn menslike tragedie vir honderde werknemers, hul gesinne en die breër Tulbagh-gemeenskap af te weer.”