
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit begin met regsaksie teen R100 miljard-rasfonds
Solidariteit se regspan het ʼn regsaanmaning aan die minister van handel, nywerheid en mededinging gestuur waarin die onwettige en diskriminerende aard van die beplande R100 miljard-rasfonds uitgewys word. Lees meer oor die aanmaning hieronder.
Deur hierdie regsproses verskerp Solidariteit sy teenstand teen dié beplande rasfonds, wat aan al die eienskappe van nóg ʼn verrykingskema vir die politieke elite voldoen, en wat nie deur ʼn administrasie wat tans ʼn begrotingskrisis in die gesig staar, bekostig kan word nie.
Tweedens is hierdie regsproses ʼn verdere aanval op die ANC-regering se voorliefde vir rassewette wat teen minderhede in Suid-Afrika diskrimineer.
Die regering wil deur die rasfonds R20 miljard per jaar tot en met 2029 inwin om swart sake-ondernemings by te staan, en wil die privaat sektor dwing om dit te help finansier. Boetes of uitsluiting van staatskontrakte kan as straf gebruik word teen diegene wat nié tot die rasfonds wil bydra nie.
Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, is die rasfonds ʼn goeie voorbeeld van die soort rasmalheid wat die ANC oor die jare heen ten koste van minderhede in Suid-Afrika, maar ook belastingbetalers in die geheel, inspan.
“Ons is een van die lande ter wêreld met die hoogste werkloosheidsyfers en met die meeste rassediskriminasiewette. Ons regering bedink elke dag iets nuuts om ons land internasionaal nóg meer ongewild te maak. Nou word daar besluit om dit nóg moeiliker vir Suid-Afrikaanse maatskappye te maak om te oorleef deur hierdie verpligte rasfonds te stig. As dit nie so tragies was nie, kon dit sekerlik as ʼn grap afgemaak word,” sê Van der Bijl.
In die regsaanmaning sê Solidariteit se regspan dat die rasfonds nóg regverdigbaar nóg grondwetlik is. Die regering sal hom daarmee skuldig maak aan magsvergryping, onoordeelkundige rassevoorkeur, irrasionele besluitneming en die oortreding van internasionale konvensies.
Solidariteit staan reg om regstappe te doen en sal ook help toesien dat internasionale druk oor die toepassing van diskriminerende rassewette in Suid-Afrika toeneem.
“Ons sal alles moontlik doen om hierdie rasfonds ter wille van ons land te beveg,” aldus Van der Bijl.
Lees die rasfonds-regsaanmaning hier.
Klankgreep: Anton van der Bijl oor regsaksie teen rasfonds.