loading
Mediaverklarings
3 dae gelede
solidariteit-bestempel-ngv-regulasies-as-klap-in-die-gesig-van-belastingbetalers

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit bestempel NGV-regulasies as klap in die gesig van belastingbetalers

Die besluit van minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, om met hierdie regulasies voort te gaan, is ʼn direkte minagting van belastingbetalers se belange. Lees hier Solidariteit se kommentaar.


Dit vorm die kern van Solidariteit se kritiek teen die onlangse publikasie van die eerste regulasies met betrekking tot die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

Volgens Theuns du Buisson, ʼn ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), loop die regering ʼn onaanvaarbare finansiële risiko deur fondse aan die NGV toe te ken, terwyl die minister van finansies sukkel om bestaande begrotingstekorte die hoof te bied.

“Terwyl die minister van finansies desperate maatreëls tref om begrotingstekorte te beperk en belastingverhogings onvermydelik blyk te wees, volhard minister Motsoaledi met ʼn finansieel onhoudbare projek deur ʼn raad vir die NGV aan te stel,” het Du Buisson verklaar.

Solidariteit het reeds regstappe teen die NGV ingestel, en beklemtoon dat die stelsel van meet af aan onvolhoubaar en onuitvoerbaar is. Du Buisson het verder daarop gewys dat die suksesvolle implementering van die NGV onrealisties is en dat enige aanstellings in hierdie verband as futiel beskou behoort te word.

“Ek hoop hierdie raadslede besef van die begin af dat hul posisies ʼn klug is en dat hul salarisse van die mense van ons land gesteel word, want die NGV sal nooit geïmplementeer word nie. Solidariteit en talle ander organisasies sal dit met regsoptrede stopsit. Tot dan sal daar nooit geld wees om die NGV na behore te befonds nie. Suid-Afrika kan nie die NGV bekostig nie,” sê Du Buisson.

Solidariteit het sy verbintenis herhaal om alle beskikbare regsmeganismes aan te wend om die NGV te beveg en die belange van sy lede, asook die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap, te beskerm.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel