loading
avatar
Artikels
3 weke gelede
solidariteit-bemagtig-entrepreneurs-by-entrepreneur-van-die-jaar-kompetisie

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit bemagtig entrepreneurs by Entrepreneur van die Jaar-kompetisie

Deur Kyla-Ann du Toit

Solidariteit is sedert 2023 ʼn trotse borg van AfriForum se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. Hierdie toonaangewende kompetisie is ʼn inisiatief wat daarop gemik is om entrepreneurs te erken, te inspireer en te bemagtig. Die kompetisie, wat in 2017 deur AfriForum Sakenetwerk van stapel gestuur is, het vinnig gegroei tot een van die land se mees gesogte platforms vir opkomende en gevestigde sakelui.

Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van die AfriForum Sakenetwerk, is die doel van die kompetisie om entrepreneurs erkenning te gee en hulle aan te moedig om voort te bou aan hul drome – ten spyte van uitdagende omstandighede.

Sanderien van der Walt, bestuurder van die AfriForum Sakenetwerk. (Fotokrediet: Okay Deer)

“Die kern van hierdie kompetisie was nog altyd om deelnemers en finaliste ʼn groter platform te gee. Ons wil entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hul harde werk raak en ons weet dat dit opoffering verg om sukses in Suid-Afrika te behaal. Die entrepreneurs wat deelneem is soveel meer as net helde in hul gemeenskap – hulle moedig ander aan deur bloot dag ná dag op te daag en ʼn verskil te maak deur werk te skep,” sê Van der Walt.

Die nodige erkenning

Die titel van “Entrepreneur van die Jaar 2025” is toegeken aan WC Reynders, stigter van FitFoodz, wat uitgestaan het vir sy innoverende benadering tot gesonde en gerieflike voorbereide maaltye. Luister sy onderhoud met Maroela Media hier.

In 2025 het die kompetisie nuwe hoogtes bereik met Version 8 Media Group as hoofborg, wat die kontantprys tot R100 000 verhoog het. Die wenner het ook onder meer ʼn vol portefeulje ter waarde van R150 000 van Steyn IP vir die beskerming van sy handelsmerk, lewens- en besigheidsafrigting van Lizette Volkwyn ter waarde van R12 500 en ʼn eksklusiewe proe-ervaring van Rocket Distillery gewen.

Die finale geleentheid het oor drie dae gestrek waartydens finaliste die geleentheid gekry het om hul besighede aan ʼn kundige beoordelaarspaneel voor te lê. Dit is ook die eerste jaar dat die kompetisie as ʼn televisiereeks op AfriForumTV beskikbaar gestel word – nóg ʼn teken van hoe hierdie inisiatief ontwikkel het van ʼn eenvoudige erkenningsprojek tot ʼn nasionale platform.

Vanjaar se beoordelaarspaneel. Voor: Charl Oberholzer (medestigter van die geskenkwinkelgroep Handelhuis), Lizette Volkwyn (lewensafrigter en skrywer) en Jandré de Beer (van V8 Media). Agter: Rhona Erasmus (televisiepersoonlikheid en sakevrou) en Kobus Galloway (van Idees vol Vrees). (Fotokrediet: Okay Deer)

Solidariteit se rol

Mandy Thackwray, bestuurder van Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling, sê Solidariteit se betrokkenheid spruit uit ʼn gedeelde visie om entrepreneurskap as dryfkrag vir ekonomiese groei te versterk.

“Ons is by hierdie inisiatief betrokke omdat ons glo dit is ʼn wonderlike geleentheid wat erkenning en blootstelling aan entrepreneurs gee, terwyl dit hulle bemagtig om hul ondernemings na nuwe hoogtes te neem,” sê sy.

“Dit is belangrik dat mense innoverend en kreatief raak, veral in die huidige ekonomiese klimaat in Suid-Afrika. As hulle suksesvolle ondernemings op die been bring, word hulle die werkgewers van die toekoms. Daarom is dit noodsaaklik om vroeg reeds bewustheid onder entrepreneurs en kleinsakeondernemings te skep, sodat Solidariteit hul vennoot in die aanstelling van nuwe talent word.”

Thackwray beklemtoon ook dat Solidariteit aan netwerk- en gemeenskapsbetrokkenheid glo.

“Deur hierdie inisiatief raak ons op gemeenskapsvlak betrokke by die ontwikkeling en groei van ondernemings wat andersins moontlik ongesiens sou verbygegaan het,” sê sy. “Ons wens elke finalis geluk met hul prestasie en ons is opgewonde om te sien hoe hulle van krag tot krag gaan.”

WC Reynders, vanjaar se Entrepreneur van die Jaar, en Jandré de Beer van V8 Media. (Fotokrediet: Okay Deer)

ʼn Belegging in werkskepping

Die kompetisie het ontstaan uit die oortuiging dat entrepreneurs die ruggraat van Suid-Afrika se ekonomie vorm. Dit bied nie net blootstelling aan deelnemers nie, maar ook waardevolle netwerkgeleenthede en mentorskap. Selfs finaliste wat nie gewen het nie, baat by die publisiteit en geloofwaardigheid wat deelname bring.

Die kompetisie is ʼn viering van sukses, maar selfs nóg belangriker, ʼn belegging in die toekoms van plaaslike ondernemings. Danksy borgskappe deur Solidariteit en ander vennote, kry entrepreneurs die nodige ondersteuning, sigbaarheid en netwerkgeleenthede om volhoubaar te groei en suksesvol te wees.

Werk is die hartklop van Solidariteit en daarom is ons trots om deel van hierdie belangrike inisiatief te wees wat entrepreneurs ondersteun wat die toekoms van werkskepping in Suid-Afrika is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel