loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
nuwe-uitstalling-by-voortrekkermonument-n-reis-terug-in-tyd

Foto Krediet: Niël Langner

Nuwe uitstalling by Voortrekkermonument: ʼn Reis terug in tyd

Indien jy jouself hierdie feesseisoen in die Jakarandastad bevind, moet jy beslis hierdie splinternuwe uitstalling op die Voortrekkermonument-terrein op jou vakansielysie sit.

Die uitstalling, “Tentedorpe van die Voortrekkermonument”, getuig daarvan dat feesvieringe en seremonies nie die enigste dinge is waarvoor Afrikaners bekend is nie, maar ook vernuf, organisasie en fyn beplanning.

“Stel jou voor: ʼn poskantoor, bank, slaghuis, apteek, boekwinkel én derduisende mense wat van oraloor in rye en rye tente op die Voortrekkermonument-terrein saamtrek om fees te vier,” skryf Maryna Eksteen, senior inhoudskepper van die Erfenisstigting (ES), in ʼn onlangse verklaring.

Die uitstalling fokus op twee historiese geleenthede waartydens die Voortrekkermonument-terrein derduisende mense gehuisves en reusagtige tydelike dorpe opgerig het. Die eerste was tydens die hoeksteenlegging in 1938 en die tweede met die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949. Beide hierdie geleenthede het rondom Geloftedag (16 Desember) plaasgevind.

Volgens die verklaring bied die uitstalling “ʼn gedetailleerde oorsig van die reusagtige tydelike dorpe wat op die Voortrekkermonument-terrein opgerig is, sodat duisende mense vir dae lank die feesvierings rondom die hoeksteenlegging en die inwyding van die monument kon beleef.”

Die uitstalling is werklik ʼn reis terug in tyd – na ʼn era toe mense van wyd en syd na die Voortrekkermonument-terrein gestroom het om hierdie historiese geleenthede by te woon. Lees meer oor hierdie unieke uitstalling op die Erfenisstigting se webtuiste (klik hier).

Besoek gerus hierdie feesseisoen die Voortrekkermonument en herdenk Geloftedag soos jou voorouers dit gedoen het – met ʼn reuse-saamtrek met jou mede-Afrikaners. 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel