loading
Artikels
23 uur gelede
solidariteit-bemagtig-studente-met-internskap

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit bemagtig studente met internskap

Deur Kyla-Ann du Toit

“Vind jou stem, bemeester jou studies en wees voorbereid vir jou toekomstige werk.”

Dít is wat Solidariteit vir studente wil verseker – en een van die maniere waarop dit gebeur, is deur waardevolle leergeleenthede te bied.

Bemagtig om te bemeester

Solidariteit bied sedert 2015 ʼn jaarlikse internskapprogram aan vir studente wat ʼn beroep in arbeidsverhoudinge wil volg. Dié program is meer as net ʼn blik op die werklikheid van die beroep – dit is ʼn praktiese én inspirerende ervaring wat studente bemagtig om hul loopbaanpad met selfvertroue aan te pak.

Vanjaar het tien studente – uit verskeie studierigtings en met ʼn fokus op arbeidsverhoudinge – ʼn streng aansoek- en keuringsproses voltooi. “Ons moes ons aansoeke indien en is daarna vir onderhoude genooi – enkele studente het selfs twee onderhoude gehad,” vertel Arno de Wet, ʼn BCom Bedryfsielkundestudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.

Volgens Chereé Meyer, organiseerder van Solidariteit se Studente- en Jongwerkende-aanbod, is dié program ʼn belangrike pilaar van Solidariteit se bestaansrede. “Ons glo dat hierdie internskap jong mense bemagtig om hul loopbaanpad te begin verken,” sê sy.

Solidariteit glo dat kennis die beste manier is om ons jong mense se toekoms te beskerm en daarom is dit nodig om die volgende generasie met die nodige kennis en vaardighede te bemagtig om ʼn suksesvolle loopbaan te verseker.

ʼn Propvol program

Die interns het vir byna twee weke aan ʼn besige en interessante program deelgeneem, wat alles van mynbesoeke en opleiding oor dissiplinêre prosesse tot netwerkgeleenthede en CV-bou ingesluit het.

Hulle het onder meer:

  • • ʼn werkwinkel oor kollektiewe bedinging en arbeidsreg bygewoon;
  • • in klein groepe aan simulasies van dissiplinêre verhore deelgeneem;
  • • ʼn denkbeeldige onderhoud bygewoon met werklike terugvoersessies ná afloop van die onderhoud;
  • • ʼn sessie oor CV-verbetering bygewoon;
  • • Solidariteit se strukture en afdelings leer ken; en
  • • ʼn uitstappie ondergronds na Mponeng, die diepste myn ter wêreld, onderneem.

“Op universiteit fokus ons so baie op teorie dat ons dit wat eintlik in die praktyk gebeur dikwels heeltemal mis,” sê De Wet. “Hierdie internskap het vir my die groter prentjie geskep van hoe die wêreld in hierdie beroep regtig lyk. En dis boonop in my moedertaal (Afrikaans) aangebied, wat ʼn groot verskil maak in hoe goed iemand leer en verstaan.”

ʼn Brug tussen ʼn idee en ʼn droom

Benewens die praktiese blootstelling en vaardigheidsontwikkeling, help die internskapprogram studente om sinvolle loopbaankeuses te maak. Deur eerstehandse ervaring in die veld van arbeidsverhoudinge op te doen, kry studente die geleentheid om hul belangstellings te toets, hul sterkpunte te ontdek en te bepaal watter rigting die beste by hul persoonlikheid en beroepsdoelwitte pas.

Vir Caitlyn Rothmann, ʼn finalejaarregstudent aan die Universiteit van Pretoria, het die internskap ʼn beslissende invloed gehad: “Ek het meer oor litigasie, arbeidsreg en arbeidsverhoudinge geleer. Ek het besef dat dit die rigting is waarin ek graag wil spesialiseer,” sê sy. “Hierdie internskap was ongelooflik waardevol. Ek sal dit beslis aanbeveel – dit gee ʼn realistiese blik op die beroep en is ʼn wonderlike leerervaring.”

Hierdie internskap help studente nie net om duidelikheid te kry nie, maar kweek ook ʼn gevoel van roeping – ʼn bewustheid dat hulle ʼn verskil kan maak in die wêreld van werk.

Loopbaangereed en toekomsgedrewe

Hoewel die internskap nie outomaties tot indiensneming lei nie, beklemtoon dit die waarde van ervaring, mentorskap en netwerkvorming – wat studente help om hul CV’s te versterk en só bo ander kandidate in ʼn mededingende arbeidsmark uit te staan. Die interns het ook noodsaaklike professionele vaardighede aangeleer soos tydsbestuur, werk-lewe-balans en hoe om hulself voor te berei vir die lewe ná universiteit.

Hierdie internskap het vir die studente iets geleer wat ʼn handboek nie kan nie. Dit is ʼn brug tussen teorie en praktyk – ʼn kykie na die werklikheid van hul gekose rigting. Solidariteit wens hierdie studente alle voorspoed toe vir die res van hul studies en vir die nuwe avontuur wat ná universiteit op hulle wag.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel