loading
avatar
Mediaverklarings
10 uur gelede
solidariteit-beweging-vra-vsa-om-sa-se-deelname-aan-agoa-te-behou

Foto Krediet: Pexels

Solidariteit Beweging vra VSA om SA se deelname aan Agoa te behou

Solidariteit Beweging vra VSA om SA se deelname aan Agoa te behou

Die Solidariteit Beweging het sy veldtog verskerp om te verseker dat die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) so gou as moontlik deur die Amerikaanse Senaat goedgekeur word en dat die Withuis nie Suid-Afrika uit die groep lande wat daaruit voordeel kan trek, sal uitsluit nie.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die organisasie vandag briewe aan pres. Donald Trump, pres. Cyril Ramaphosa en die meerderheidsleier in die Amerikaanse senaat, John Thune, gerig om die belangrikheid van Agoa te bevestig, die redes waarom Suid-Afrika deel daarvan moet bly te beklemtoon en ʼn ernstige versoek te rig dat die diplomatieke geskil tussen dié twee lande nie in die pad van Agoa moet staan nie.

Die drie briewe beklemtoon die Solidariteit Beweging se verbintenis tot die beskerming van die lewensbestaan van Suid-Afrikaanse werkers en nywerhede te midde van voortdurende diplomatieke spanning tussen die Verenigde State van Amerika en Suid-Afrika. Volgens Buys is die beweging steeds daarvan oortuig dat die diplomatieke geskil bygelê kan word sonder dat Suid-Afrika uit Agoa geskop word.

“Agoa is ʼn reddingsboei vir ons privaat sektor en werkers wat nie gepenaliseer moet word vir die Suid-Afrikaanse regering se binnelandse en buitelandse beleid nie – ʼn beleid wat die Amerikaanse regering as roekeloos en selfs vyandig beskou,” het Buys gesê. “Ons glo vas dat die diplomatieke krisis deur geteikende onderhandelinge en bilaterale kanale opgelos kan word, eerder as deur breë maatreëls wat gewone nywerhede en burgers benadeel.”

In die brief aan pres. Ramaphosa doen Buys ʼn beroep op die prioritisering van nie-belyning in buitelandse sake, en die handhawing van grondwetlike beskerming vir eiendom en kulturele vryhede. “Ek doen ʼn beroep op u om dit te oorweeg om weldeurdagte politieke toegewings te maak, soos om verbintenisse tot eiendomsreg en minderheidsregte te herbevestig, meer pogings aan te wend om alle misdaad, insluitend plaasaanvalle, hok te slaan en om buitelandse beleid op ʼn meer genuanseerde wyse te verduidelik en na werklike nie-belyning terug te keer.”

Volgens Buys kan hierdie stappe voortgesette Agoa-toegang ontsluit, werksgeleenthede in uitvoerafhanklike sektore beskerm en Suid-Afrika se globale mededingendheid verbeter, wat uiteindelik werkers, besighede en die ekonomie in die algemeen bevoordeel.

In sy brief aan pres. Trump vra Buys dat die belangrikheid van Agoa binne Afrika-konteks nie uit die oog verloor moet word nie.

“Geopolities is die behoud van Agoa, insluitend Suid-Afrika se deelname daaraan, noodsaaklik vir Amerika se belange in Afrika. Soos u beklemtoon het, is Agoa’n kragtige instrument teen Chinese en Russiese invloed deur vryemarkbeginsels te bevorder, toegang tot kritieke minerale te verseker (waar Suid-Afrika ʼn sleutelrol speel), en stabiele, voorspoedige vennote op ʼn kontinent te bevorder wat teen die middel van die eeu ʼn kwart van die wêreld se bevolking sal verteenwoordig. Agoa het ook die afgelope twee dekades ʼn positiewe bydrae tot persepsies oor die VSA in Afrika gelewer,” skryf Buys aan Trump.

Aan Thune vra Buys dat die Senaat die goedkeuring van die Agoa-verlengingswetsontwerp moet prioritiseer.

“Dit (Agoa) stem ooreen met Amerika se doelwitte om vryemarkekonomieë te bevorder, voorsieningskettings te beveilig en gedeelde waardes van menseregte en die oppergesag van die reg te bevorder. Die Solidariteit Beweging is onwrikbaar in sy verbintenis tot die bevordering van ʼn positiewe en blywende verhouding tussen die Verenigde State en Suid-Afrika. Ons glo dat hernieude ekonomiese samewerking deur Agoa hierdie bande sal versterk, wat albei nasies se burgers sal bevoordeel en tot ʼn welvarender, veiliger wêreld sal bydra.”

Die Solidariteit Beweging beplan verskeie aksies om die goedkeuring van die verlenging van Agoa, en Suid-Afrika se insluiting daarby, te bevorder. Dit sluit in die oorhandiging van datastelle oor die historiese voordele wat deur Agoa geskep is aan lede van die Amerikaanse kongres en raadgewers van pres. Trump, en verdere gesprekvoering met die Suid-Afrikaanse regering ten einde maniere te vind om die diplomatieke geskil tussen die twee lande by te lê.

Vind die brief aan pres. Ramaphosa hier, die brief aan pres. Trump hier, en die brief aan die meerderheidsleier in die Amerikaanse senaat, John Thune, hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel