Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Toe 13 se salarisse opdroog en antwoorde kwyn, tree Solidariteit in
Deur Robin-Lee Maré
Vir meer as ’n jaar lank het hoop en moed hand aan hand geloop met frustrasie en uitputting. Vir 13 werknemers van Educor Holdings en City Varsity in Kaapstad was elke maand ’n tree in die onbekende in: Sal ons salarisse betyds betaal word? Sal daar vandag antwoorde kom?
Onder hierdie groep was twee Solidariteit-lede, Kristina Graour en Malcolm Kohll. Die twee het niks meer gevra as om net hulle finansiële verpligtinge na te kom nie. Maar toe hulle salarisse herhaaldelik laat betaal, of selfs glad nie betaal is nie, is hulle lewens ontwrig.
Kommunikasie het begin opdroog en hulle werksomstandighede het onuithoudbaar geraak.
Dit het duidelik geword: iets ernstig is verkeerd en iets móés verander.
Ten spyte van herhaalde interne pogings om die situasie reg te stel, het niks verander nie. Die druk het maand na maand aanhou opbou. Teen Desember 2024 het die werknemers geen alternatiewe keuse meer gehad nie. Hulle het bedank, nie omdat hulle wou nie, maar omdat hulle moes.
Die saak is na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys, ’n stap wat vir baie van hulle intimiderend kan wees. Maar Solidariteit het namens sy twee lede opgetree, en elke e-pos, betalingsrekord en stuk korrespondensie is sorgvuldig bymekaar gebring om die verhaal soos ʼn legkaart aanmekaar te sit.
Op 9 Januarie 2026 het die deurbraak gekom en die stukke in plek geval.
In ’n beslissende arbitrasietoekenning het die KVBA bevind dat die werknemers konstruktief ontslaan is. Konstruktiewe ontslag is ʼn vorm van ontslag ingevolge artikel 186(1)(e) van die Wet op Arbeidsverhoudinge, waar ʼn werknemer ʼn dienskontrak met of sonder kennis beëindig omdat die werkgewer voortgesette indiensneming vir die werknemer onuithoudbaar gemaak het. Kommissaris David Wilson het beslis dat Educor Holdings en City Varsity gesamentlik aanspreeklik is vir vergoeding en uitstaande betalings van meer as R1,3 miljoen altesaam. Die betalings moet voor 30 Januarie 2026 geskied.
Vir Solidariteit is dié uitspraak meer as net ’n syfer op papier, dit is ’n bevestiging van beginsel.
“Konstruktiewe ontslag gebeur nie oornag nie,” sê Chantal van der Merwe, Solidariteit se litigant en verteenwoordiger in die saak. “Dit ontstaan wanneer ’n werkgewer oor die tyd heen versuim om basiese verpligtinge na te kom, en werknemers eenvoudig geen ander uitweg gelaat word nie. Hierdie uitspraak bevestig dat volgehoue wanbetaling van salarisse nie aanvaarbaar is nie.”
Sy beklemtoon ook hoe belangrik voorbereiding in die saak was. “Geregtigheid begin met bewyse, nie geluk nie.”
“In hierdie saak het die werknemers deurgaans sterk en goed georganiseerde bewyse voorgelê wat ons kon gebruik. In ’n komplekse konstruktiewe ontslagsaak maak dit ’n wesenlike verskil.”
Volgens Solidariteit stuur dié uitspraak ’n duidelike boodskap aan werkgewers: kontrakbreuk het gevolge. En aan werknemers? Dat hulle nie alleen hoef te staan nie.
Die vakbond sal voortgaan om lede te ondersteun waar werkgewers deur hul optrede werknemers in onuithoudbare posisies dwing. Lede word aangemoedig om dokumente, korrespondensie en betalingsrekords deurlopend te bewaar en logies te organiseer, want wanneer die waarheid goed gedokumenteer is, kan dit nie maklik weggepraat word nie.
“Hierdie oorwinning bewys een ding duidelik: regverdigheid is moontlik vir dié wat voorbereid is,” sluit Van der Merwe af.