loading
Mediaverklarings
8 maande gelede
solidariteit-bewerkstellig-eisaanvaarding-vir-beseerde-gold-one-gyselaars

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit bewerkstellig eisaanvaarding vir beseerde Gold One-gyselaars 

Geregtigheid het uiteindelik geskied vir ’n groep mynwerkers wat in Desember 2023 ernstig aangerand is tydens ’n gyselaarsdrama wat by die Gold One-myn in Springs afgespeel het.
Vyf Solidariteit-lede se eise by Rand Mutual Assurance (RMA) is nou aanvaar nadat hulle wreed deur gewapende, stakende mynwerkers aangerand is. Hierdie oproeriges het tussen 7 en 11 Desember ongeveer 400 mede-werkers onder die vaandel van vakbondtwis ondergronds vasgekeer.
Van hierdie gyselaars was lede van Solidariteit en hulle het onder die slagoffers getel wat herhaaldelik geslaan en met die dood gedreig is. Die slagoffers moes agterna gehospitaliseer word, traumaberading en behandeling vir onder andere posttraumatiese stresversteuring (PTSV) ontvang.
Hierdie deurbraak rakende die aanvaarding van hul eise volg meer as ’n halfjaar later, ná ’n lang tydperk waartydens Solidariteit se afdeling vir Beroepsgesondheid en -veiligheid (BGV) die stryd namens sy geaffekteerde lede moes voer.
Danksy die volgehoue onderhandeling van Solidariteit namens die lede wat hy verteenwoordig en beskerm, is ’n gewenste uitslag uiteindelik bewerkstellig.
Johan Böning, afdelingshoof van BGV by Solidariteit, sê geen werker behoort ooit deur te maak wat hierdie lede deurgemaak het nie. 
“Ons is verlig en dankbaar dat ons lede se eise vir dit wat hulle moes deurmaak, nou aanvaar is. Hopelik sal die werkgewer en die owerhede doen wat hulle kan om toe te sien dat so iets nooit weer by die myn gebeur nie.
“Hierdie eise om vergoeding is wél aanvanklik afgekeur, maar op aandrang van Solidariteit is dit hersien en ons is bly om te kan sê die beswaar en hersiening was suksesvol,” sê Böning.
Solidariteit het gevolglik kennis ontvang dat RMA besluit het om tog die eise te aanvaar, al beskou hulle dit regstegnies nié as besering aan diens weens ʼn ongeluk nie.
Die risiko wat met werknemers in die mynbedryf se spesifieke werksomgewing gepaard gaan, is heroorweeg en uiteindelik in ag geneem met die aanvaarding van die eis.
Solidariteit is ook dankbaar vir die goeie gees waarin hy die gesprekke oor die eise met RMA se uitvoerende bestuur kon afhandel. 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel