loading
avatar
Mediaverklarings
9 uur gelede
solidariteit-blameer-ramaphosa-en-lamola-vir-vsa-se-agoa-besluit

Fotokrediet: ChatGPT

Solidariteit blameer Ramaphosa en Lamola vir VSA se Agoa-besluit

Solidariteit het sy teleurstelling uitgespreek oor die Withuis se besluit om Suid-Afrika nie vir 2027 as begunstigde land ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) te behou nie.

Hierdie besluit is ʼn direkte gevolg van die Suid-Afrikaanse regering se versuim om die verslegtende diplomatieke verhouding met die Verenigde State te herstel. 

Ondanks Solidariteit se herhaalde en volgehoue pogings om Suid-Afrika se deelname aan Agoa te probeer red, was dit reeds verlede week duidelik dat die verhouding tussen Pretoria en Washington só ernstig versleg het dat die Withuis nie meer bereid was om Suid-Afrika deel van die program te hou nie.

Die regering, president Cyril Ramaphosa en minister Ronald Lamola het herhaaldelik waarskuwings geïgnoreer. In plaas daarvan het hulle ʼn buitelandse beleid gevolg en openbare uitsprake gemaak wat die betrekkinge met een van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote verder laat versleg het. 

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, was die organisasie verlede jaar instrumenteel in die werwing van steun in die Amerikaanse Kongres om Agoa met twee jaar, tot einde 2027, te verleng. 

“Deur direkte skakeling met senatore, lede van die Huis van Verteenwoordigers en amptenare het ons bygedra tot die behoud van die wetgewing self. Ons werk tans saam met lede van die Kongres aan planne om Agoa ná 2027 met tien jaar te verleng.

“Die jaarlikse hersiening van begunstigde lande bly egter ʼn funksie van die Withuis. Ramaphosa en Lamola se antagonisme teen Trump en die Withuis het dit vir die Trump-administrasie onmoontlik gemaak om Suid-Afrika deel van Agoa te hou. 

“Ons het maande lank gewaarsku dat die regering se optrede, insluitend minister Lamola se ondiplomatieke uitsprake tydens sy besoek aan die VSA in September, Suid-Afrika se deelname aan Agoa in gevaar stel. Die verantwoordelikheid vir hierdie uitsluiting rus vierkantig by die regering, Lamola en Ramaphosa.

“Gewone werkers en bedrywe gaan nou die prys betaal vir politieke nalatigheid,” sê Kleynhans. 

Solidariteit doen ʼn dringende beroep op die regering om die geskil met die VSA onmiddellik en op konstruktiewe wyse by te lê. Die ekonomiese koste van hierdie besluit – veral vir die motor-, landbou- en ander uitvoergerigte bedrywe – sal beduidend wees en duisende werkgeleenthede bedreig. 

Intussen is Solidariteit in gesprek met die Amerikaanse regering om die negatiewe gevolge van die Agoa-besluit vir sy lede en die betrokke bedrywe in Suid-Afrika sover moontlik te beperk. Die organisasie sal voortgaan om die belange van werkers en die ekonomie te beskerm, ongeag die regering se versuim om dit te doen. 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel