Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
22 uur gelede
solidariteit-dankbaar-vir-geleentheid-om-laaste-agoa-pleidooi-te-rig

Fotokrediet: Pexels

Solidariteit dankbaar vir geleentheid om laaste Agoa-pleidooi te rig

Solidariteit het die Withuis en die Amerikaanse regering bedank vir die geleentheid om gister regstreeks vir Suid-Afrikaanse werkers en die behoud van die land se Agoa-deelname te kon intree – ʼn dag voor ʼn besluit oor dié handelsvoordele geneem word.

Die vakbond het tydens die gesprekke ʼn laaste dringende beroep op die Trump-administrasie gedoen om Suid-Afrika se deelname aan dié handelsprogram te behou.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, word ʼn besluit vermoedelik vandag geneem, met ʼn aankondiging wat waarskynlik Maandag sal volg.

“Ons waardeer die geleentheid om Suid-Afrikaanse werkers se belange tot op die hoogste vlak te kon stel.

“Ons pleidooi is in Suid-Afrikaanse belang, en fokus daarop dat werkers, ondernemings en gemeenskappe nie die prys vir die Suid-Afrikaanse regering se diplomatieke mislukkings moet betaal nie,” sê Kleynhans.

Solidariteit bly egter bekommerd dat die Suid-Afrikaanse regering nie genoeg gedoen het om ʼn sterk, geloofwaardige saak vir die behoud van Agoa-deelname te stel nie.

Volgens die vakbond bly die risiko van uitsluiting van Agoa hoog en kan dit tot gevolg hê dat hele gemeenskappe se werk daardeur uitgewis word.

Die VF Plus het onlangs op versoek van Solidariteit ook ʼn formele dispuut oor Agoa binne die regering van nasionale eenheid verklaar om dringende regeringsoptrede oor die krisis te probeer bewerkstellig, terwyl die DA ook van voorneme is om daaroor op te tree.

Solidariteit beklemtoon dat meer as 500 000 poste in Suid-Afrika afhanklik is van handel met die VSA, waarvan sowat 250 000 met Agoa verbind word.

Uitsluiting sal uitvoerders se mededingendheid in die Amerikaanse mark verswak en kan tot die verlies van bestellings, kleiner produksievolumes en werksverliese lei. Veral uitvoerbedrywe soos landbou en die motorbedryf, asook hul verskaffers en omliggende gemeenskappe, kan swaar getref word.

“Natuurlik is belangrike uitvoere op die spel, maar agter daardie uitvoere staan ook werkers wat gesinne onderhou. Wanneer daardie uitvoere verdwyn, tref dit huishoudings, plaaslike ondernemings en hele gemeenskappe.

“Dit is waarom ons tot op die laaste oomblik vir die behoud van hierdie handelsvoordele pleit,” sê Kleynhans.

Kleynhans sal in die komende dae namens Solidariteit in die VSA wees om verdere gesprekke te voer. Die vakbond sal, soos wat hy in die afgelope jare gedoen het, voortgaan om hom vir goeie betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VSA te beywer.

“Die ANC-geleide regering het hierdie belangrike verhouding verwaarloos. Ons kan egter nie toelaat dat daardie versuim ons werkers se toekoms bepaal nie. Ongeag wat die Agoa-besluit is, sal ons bly werk aan betrekkinge wat handel, belegging en werksgeleenthede in Suid-Afrika bevorder,” sê Kleynhans.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel