
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit: jóú beroepstuiste
Ons mense word deur die staat uitgeskop. Openbare instellings stort in duie en Afrikaanssprekendes voel vervreemd en word as ʼn minderheid geboelie. Daarom moet ons verantwoordelikheid neem vir mekaar, en spesifiek vir ons jong mense, om betekenisvol, suksesvol en goed te kan werk.
Solidariteit het op 1 September 2023 ʼn nuwe blaadjie omgeslaan. Ons het ʼn werkmark vir ons lede gebou in die vorm van ʼn wêreldklas-platform.
Die doel van die hierdie platform is om die Afrikaner-kultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap in beroepe en oor beroepe heen te help om nie net te werk nie, maar goed te kan werk en hulle volle potensiaal te bereik.
Solidariteit bring mense deur middel van nuwe tegnologie bymekaar. Hulle kuier saam en hulle help mekaar. Diegene wat wil werk en leer, ontmoet mense wat werk en opleiding wil gee. Dit is dus ʼn groot mark van werk en kennis. Dié mark is nie van die staat afhanklik nie, maar sy lede is van mekaar afhanklik. Daarom sê ons: “Ons sal self!”
Solidariteit word dus ʼn eenstop- Afrikaanse platform vir beroepsgemeenskappe om te netwerk en waarop gemeenskapsdienste kan floreer, en dit bied ʼn werksoekportaal van wêreldgehalte.
Wat bied Solidariteit se platform:
Soek en gee werk
Solidariteit se gratis werkfasiliteringsfunksie bied ʼn unieke geleentheid vir werkgewers en organisasies om ʼn profiel te skep en poste te adverteer. Dit skep ʼn beter verbinding tussen werkgewers en potensiële werknemers, wat kan lei tot nuwe geleenthede en werkplekke vir ons gemeenskap.
Skoliere-aanbod
Hierdie netwerk van werk en opleiding is vir ons kinders. Ons dink hier oor die volgende geslag. Daarom het ons ʼn spesifieke fokus op skoliere. Ons help hulle op hul totale hoërskoolpad om die regte keuses te maak om eendag goed te kan werk. Solidariteit bied hulp met belangstellings, vakkeuses, beroepskeuses, studiekeuses en vele meer. Dit kan jy vind onder “My Hoërskoolpad”.
Voortgesette leer
Byna 150 kursusse vir verskeie beroepe en oor verskillende onderwerpe bied vir lede die geleentheid om hulle volle potensiaal te bereik. Ons leef in ʼn tyd waar verandering en kennis versnel. Die enigste manier om lewenslange verandering te troef, is lewenslange leer. Voortgesette leer hou jou op die voorpunt van kennis en help om jou volle potensiaal te bereik.
Beroepsnetwerke
By Solidariteit kan jy by groepe van jou keuse aansluit, hetsy met betrekking tot jou beroep of belangstellings. Hier kry jy toegang tot beskikbare werk-, leer- en netwerkgeleenthede, inligting en gebeurtenisse wat van toepassing is op jou.
Studentelewe
Solidariteit het ook ’n Studente-aanbod geloods waar studente bemagtig word om hulle stem te vind, studie te bemeester en waar studente voorberei word vir die toekoms van werk.
Solidariteit is ʼn bewys van ons toewyding aan ons gemeenskap se toekoms en aan die potensiaal van die volgende generasie. Dit is ʼn ruimte waar jong mense die hulpbronne, ondersteuning en leiding kan kry wat hulle benodig om hul doelwitte te bereik en hul drome te verwesenlik, en waar die kenners in ons gemeenskap hul roeping kan uitleef in die wete dat hulle ʼn nalatenskap vir hul gemeenskap skep.
By Solidariteit stap ons saam met jou op jou totale loopbaanpad
Dit begin op skoolvlak met hulp en leiding om die regte beroepskeuses te maak. Daarna volg studiehulp en gehalte-onderriginstellings. Daar word gehelp met werkfasilitering en werkbeskerming. Beroepsnetwerke skep netwerkgeleenthede, ʼn veilige omgewing en die geleentheid vir meesters om studente te help. Voortgesette leer help mense om hulle volle potensiaal te bereik. Dit is ʼn reuse-helpmekaargemeenskap wat saamstap op jou loopbaanpad.
Skep jou gratis profiel op Solidariteit om by hierdie unieke gemeenskap aan te sluit!