
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit dalk hof toe oor Bela-wetsontwerp nadat ANC, EFF dit goedkeur
Solidariteit gaan dalk met geen ander keuse gelaat wees as om in te gryp om regeringskaping van skole te keer nie.
Dit volg nadat ʼn parlementêre portefeuljekomitee, waarin die ANC en die EFF hulle getalle gebruik het om ʼn meerderheid te behaal, vandag die Bela-wetsontwerp aanvaar het. Die wetsontwerp is dus vir voorlegging aan die Nasionale Vergadering (NV) aanvaar. Dit is die volgende stap in die proses om dit as wet goed te keur.
Die komitee het boonop insette wat in die openbare deelnameproses verkry is botweg geïgnoreer en voorgestelde wetgewing aanvaar waardeur besluitneming oor skole se taal- en toelatingsbeleid van beheerliggame na die regering oorgedra word.
Meer as 80% van diegene wat insette oor die Bela-wetsontwerp gelewer het, steun dit nie en die politieke opposisie wat in die komitee dien, is ook daarteen gekant.
Solidariteit sal die wetswysiging met regstappe beveg sou dit verder deurgedruk word.
“Die ANC het slegs een doel voor oë,” sê Johan Botha, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris van die professionele sektor. “Hulle streef na nóg meer mag en na die sentralisering van onderwys en die kaping van skole. Hulle fokus is op die afskaffing van Afrikaans in skole onder die vals aantyging dat huidige taalbeleide kinders van onderrig weerhou.”
Hy sê die werklikheid is dat die regering nie sy eie verantwoordelikhede teenoor skole en leerders nakom nie.
Volgens Botha stel die regering in werklikheid nie daarin belang om onderwys in Suid-Afrika te verbeter of te bevorder nie.
“Die regering wil veel eerder ʼn rasse-ideologie bevorder en wil Afrikaners en Afrikaanssprekendes van hulle skole vervreem. Dit is ʼn absolute aanslag op Afrikaans en die bestaansreg van Afrikaanse skole.
Die regering weier om sy plig na te kom en misbruik die wetgewende gesag om ongrondwetlike wette deur te druk. Solidariteit sal egter nie toekyk hoe kinders van hulle skoolregte gestroop word nie. Ons is gereed om voort te gaan met regsoptrede sou hierdie wetgewing deurgedruk word.”
Solidariteit is ook van mening dat die parlementêre komitee nie sy plig nagekom het nie. Dit het duidelik geblyk uit die openbare deelnameprosesse dat die meerderheid van die deelnemers nie ten gunste van die wetswysiging is nie. Nagenoeg 9 000 van die 11 000 insette oor die Bela-wysigingswetsontwerp dui daarop dat die bestaande wette nie gewysig moet word nie.
“Tog hou die regering vol om openbare insette te ignoreer en om sy eie agenda ten koste van miljoene kinders te dryf. Dit maak ʼn bespotting van die openbare deelnameproses en van ons demokrasie,” sê Botha.
Solidariteit glo minder, pleks van meer staatsbeheer is die antwoord wat sal lei tot vooruitgang. Solidariteit is ten gunste daarvan dat ouers en gemeenskappe eienaarskap neem om skole in die beste belang van hulle eie kinders te bestuur.