loading
Mediaverklarings
1 jaar gelede
solidariteit-eis-antwoorde-oor-rapport-en-beeld

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit eis antwoorde oor Rapport en Beeld

Solidariteit eis in ’n skrywe aan Media24 duidelikheid oor gerugte dat Afrikaanse koerante soos Rapport en Beeld se gedrukte weergawes eersdaags tot niet gemaak gaan word.

Hierdie skoknuus waaroor die Moneyweb-webtuiste berig het, was nie net vir lojale lesers van hierdie ou dag- en weekblaaie ’n ontnugtering nie; dit was ook nuus vir werknemers van die koerante self.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, word die brief namens die groot getalle lede van Solidariteit wat by hierdie koerante werksaam is, geskryf.

“Van ons lede, onder wie sommiges wat senior bestuursposisies beklee, het in die media vir die eerste keer van hierdie radikale ingrypings gelees. Daar is nie met hulle gekonsulteer of gekommunikeer nie. “Ons inligting is dat van die koerante wat blykbaar in Oktober gesluit gaan word, steeds winsgewend is. Die gedrukte koerante sorg steeds vir groot advertensie-inkomste. Daarom soek ons, namens ons lede en die Afrikaanse gemeenskap, antwoorde hieroor,” sê Hermann.Solidariteit se besluit om in te gryp word ook ter wille van Afrikaans geneem, aangesien hierdie afskaffing die Afrikaanse nuusaanbod in die land ’n ernstige knou sal toedien.

Volgens Hermann sal die prys wat betaal word, veel groter wees as die besparing wat Media24 teweeg sal bring deur die koerante permanent van die rakke te verwyder. “Vir meer as 100 jaar het die Afrikaanse gemeenskap hierdie koerante as instellings van die media ondersteun. Die Nasionale Pers is uit absolute armoede gebore.

“Daarom sê ons Media24 het ’n ereskuld teenoor hierdie gemeenskap wat met min hulpbronne ’n maatskappy gebou het – een wat hulle tot vandag toe as lesers ondersteun. Dit sal oneervol wees om die Afrikaanse nuusaanbod so ingrypend in te kort,” sê Hermann.Solidariteit eis dringend terugvoer van Media24 en ’n verduideliking van hoe die wetlik voorgeskrewe konsultasieprosesse nagekom is, en hoe beplan word om die gevolge van die besluit verantwoordelik te bestuur. Sien Solidariteit se skrywe hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel