loading
Artikels
1 week gelede
solidariteit-eis-duisende-namens-lid-na-onregverdige-besnoeiing-van-salaris

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit eis duisende namens lid na onregverdige besnoeiing van salaris

Deur Heléne Mocke

Riaan Kruger, ʼn Solidariteit-lid wat kort voor sy bedanking op ʼn onbillike wyse en sonder sy toestemming salarisvermindering ondergaan het, het danksy Solidariteit ʼn toekenningsbedrag van ongeveer R840 000se salaris by die arbeidshof gekry.

Kruger werk sedert 1998 by Alstom Ubunye. In Oktober 2020 het sy werkgewer sy salaris met ongeveer 50% gesny sonder sy toestemming.

Die werkgewer het verder ook vir Kruger ʼn alternatiewe werkskontrak aangebied wat hy geweier het om te onderteken.

“Hulle het hom basies sonder enige proses en sonder sy toestemming ʼn salarisvermindering gegee,” vertel Mariesa Jansen van Rensburg, die litigant wat sy saak by Solidariteit hanteer het.

Solidariteit het ʼn eis by die arbeidshof aanhangig gemaak om die balans van Kruger se salarisse vanaf Oktober 2020 tot en met Junie 2023 terug te eis. Kruger het in Junie 2023 besluit om sy dienste by sy werkgewer te beëindig.

Die saak is na die arbeidshof verwys om die lid se oorspronklike dienskontrak sodoende af te dwing. Die hof het bevind dat die werkgewer en werknemer nooit ʼn ooreenkoms bereik het om sy vergoeding te sny nie en dus is hy op die salaris, soos in sy oorspronklike dienskontrak ooreengekom is, geregtig.

Danksy Solidariteit se toetrede tot die saak, is Kruger se saak aangehoor en die hof het bevind dat die werkgewer Kruger op ʼn onregverdige wyse behandel het.

Die vergoedingsbedrag vir Kruger se onregverdige behandeling en vergoeding vir sy verlore inkomste vir die tydperk was gelykstaande aan ongeveer twee en ʼn half jaar van sy salaris wat ongeveer R840 308.27 beloop het.

“Dit is onaanvaarbaar dat ʼn werkgewer enige wesenlike veranderinge aan ʼn werknemer se vergoeding maak sonder sy of haar toestemming. Die hof se uitspraak bevestig hierdie beginsel dat ʼn werkgewer ʼn werknemer se toestemming moet hê om enige aanpassings in die verband te maak,” sê Jansen van Rensburg verder.

Solidariteit is daar vir sy lede en sal lede bystaan wie se sake oor onregverdige behandeling by die werk meriete dra.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel