
Foto Krediet: Getty Images
Gekopieër
Solidariteit eis meer as R200 000 vir afgetrede lt. kol. Malete
Ná byna 40 jaar se getroue diens in die SAPD het lt. kol Malete se toewyding aan sy werk uiteindelik tot diepe teleurstelling gelei toe hy, ondanks sy merkwaardige rekord, nie eens vir ‘n bevordering oorweeg is nie. Lees die storie hieronder.
Deur Heléne Mocke
Ná byna 40 jaar se getroue diens in die Pretoria-streek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het lt. kol Frans Malete se toewyding aan sy werk uiteindelik tot diepe teleurstelling gelei toe hy, ondanks sy merkwaardige rekord, nie eens vir ‘n bevordering oorweeg is nie.
Hy het sedertdien besluit om sy polisiestewels permanent te bêre en het afgetree.
Lt.kol. Malete, ’n trotse lid van Solidariteit, is iemand wat sy hele loopbaan in diens van sy gemeenskap was en hy het hierdie optrede as ʼn klap in die gesig ervaar. Hy het sedert 2015 dieselfde pos by die SAPD beklee, wat hy nie as ʼn werk nie, maar as ʼn roeping beskou het.
Hy het boonop aan al die vereistes vir die bevorderingspos voldoen toe dit in 2022 oopgegaan het, en hy het vir talle opleidingsessies gegaan om bykomende vaardighede in sy beroep op te skerp. Tog is hy oor die hoof gesien toe dit werklik saak maak. Die SAPD het ook geen regverdige rede verskaf waarom Malete nie die kortlys vir die pos gehaal het nie.
Maar waar daar onreg is, is daar ook hoop – veral waar Solidariteit betrokke is. Die vakbond se verteenwoordigers het ingespring en hierdie saak namens Malete aangepak.
Solidariteit het die saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geneem en daarop aangedring dat die werkgewer onbillik teenoor die aansoeker was. Hierdie aangeleentheid is as ʼn onreg teenoor ʼn ware dienaar van die gemeenskap beskou.
Na ʼn deeglike ondersoek het die KVBA aan die einde van 2024 bevind die SAPD het onbillik opgetree, en as regstelling moes die SAPD ʼn vergoedingsbedrag van R281 619 aan Malete uitbetaal.
Dit was omdat Malete verreweg die beste kandidaat vir die pos was. Die bevordering sou ook ʼn aansienlike impak op sy pensioenpakket gehad het.
Solidariteit se stryd teen onreg in die werkplek is ʼn belangrike stryd. Vir Malete is hierdie oorwinning ʼn bewys dat geregtigheid, hoe stadig ook al, tog seëvier en hy het gedurende die proses sy dankbaarheid teenoor Solidariteit uitgespreek.
Vir sy hoofde in die SAPD en vir werkgewers oraloor behoort dit as waarskuwing te dien. Terselfdetyd is dit ʼn boodskap van bemoediging vir werknemers dat hulle nie alleen staan wanneer hulle regte in die werkplek misken word nie.