
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
SA se Agoa-ooreenkoms kan in G20-jaar sneuwel
‘ʼn Brief waarin Amerikaanse kongreslede pres. Donald Trump vra om Suid-Afrika se toegang tot voordele ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) te beëindig, word tans wyd versprei.
In die brief word aangevoer dat dit nodig is dat Suid-Afrika daaraan herinner moet word wat gebeur indien Amerikaanse belange geminag word. Lees meer oor Solidariteit se Agoa-verslag hier.
Herhaaldelike waarskuwings van Solidariteit oor die gevolge vir Suid-Afrika van skadelike en anti-Amerikaanse beleid dreig al hoe meer om ʼn werklikheid te word.
ʼn Brief waarin Amerikaanse kongreslede pres. Donald Trump vra om Suid-Afrika se toegang tot voordele ingevolge die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) te beëindig, word tans wyd versprei.
In die brief word aangevoer dat dit nodig is dat Suid-Afrika daaraan herinner moet word wat gebeur indien Amerikaanse belange geminag word.
Dit gebeur boonop in die jaar wat Suid-Afrika gasheer speel vir die G20-beraad – en in die week wat G20 ministers van buitelandse sake Suid-Afrika vir ‘n vergadering besoek.
Die Amerikaanse minister, Marco Rubio, woon uit protes teen Suid-Afrikaanse beleid nie die vergadering by nie.
Rubio se besluit, onlangse uitsprake en uitvoerende bevele deur pres. Trump asook die kongreslede se harde brief, laat geen twyfel bestaan dat Suid-Afrika se voordele volgens die Agoa-ooreenkoms op dun ys beweeg nie.
Solidariteit het oor ʼn lang tydperk heen spesifiek uitgewys hoe skadelik die verlies van Agoa-voordele vir gewone Suid-Afrikaners, asook vir verskeie bedrywe kan wees. ʼn Agoa-verslag wat deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) opgestel is en wat die voordele van die handelsooreenkoms vir Suid-Afrika uitlig, is eerstens aan die Suid-Afrikaanse regering voorgelê.
Daar is egter geen reaksie op die belangrike verslag ontvang nie.
Uiteindelik het Solidariteit hierdie verslag onder die aandag van regeringsdepartemente en ander belangegroepe in die VSA gebring. Volgens Theuns du Buisson, samesteller van die Agoa-verslag en ʼn ekonomiese navorser by die SNI, was amptenare in die VSA dankbaar vir hierdie verslag aangesien hulle pleidooi by die Suid-Afrikaanse regering vir soortgelyke syfers telkens óók op dowe ore geval het.
Die SNI het intussen ʼn bygewerkte Agoa-verslag vir 2025 opgestel wat juis die positiewe uitwerking van Agoa op die Suid-Afrikaanse ekonomie uitlig. Lees die verslag hier.
Dit is daarvolgens duidelik hoe die afskaffing van die ooreenkoms groot skade aan bedrywe soos mynbou en metaalverwerking sal aanrig, of hoe bedryfsektore wat op nie-edelmetale, chemikalieë en landbouprodukte staatmaak, nadelig geraak sal word. Die motorvervaardigingbedryf kan heel moontlik ook op sy knieë gedwing word.
Die verslag dui aan dat Suid-Afrika se totale uitvoere na die VSA op R156,8 miljard staan terwyl sowat die helfte (48%) daarvan van sektore afkomstig is wat regstreeks by Agoa baat vind.
Van die skadelike beleidsrigtings wat Solidariteit in die verlede uitgewys het, word nou ook in die brief deur die kongreslede herhaal. Dit sluit in die Suid-Afrikaanse regering se vyandige houding teenoor Israel, asook die ANC se openlik noue bande met Hamas.
Die brief maak ook melding van die Suid-Afrikaanse regering se noue verhouding met die Chinese Kommunistiese Party en hul standpunte oor Taiwan.
Daar word verder vermeld hoe pogings om onteiening sonder vergoeding teweeg te bring, asook en die hoë vlakke van korrupsie en misdaad, Suid-Afrika reeds ongeskik vir toegang tot Agoa-voordele maak.
Du Buisson sê dit is duidelik dat die ANC se volharding met anti-Amerikaanse beleid nou sy tol eis.
“Die heel eerste vereiste vir Agoa is respek vir menseregte en eiendomsreg, en dit is onder verdenking. So ook ons buitelandse verhoudinge. Dit is die oorsaak van hierdie diplomatieke krisis en die rede waarom Suid-Afrikaners vir ons regering kwaad moet wees.
“Tog wil Solidariteit nie hê Suid-Afrika moet uit Agoa geskop word nie, aangesien die mense wat daaronder sal ly, juis die gewone werkers en die mense is wat die VSA se belange wil beskerm,” sê Du Buisson.
Solidariteit gaan nietemin in 2025 met groot energie bewusmaking doen onder verteenwoordigers van die G20-lande sodat daar van vernietigende ANC-beleid – en veral sy rasbeleid en -wette – kennis geneem word.
Tensy ‘n einddatum vir sogenaamde regstellende raswette bevestig word, kan Suid-Afrika nie langer beleggersvertroue inboesem nie aangesien die beleid ekonomiese groei teëwerk.