
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Hoe lyk jou werk in 2030? Wat die Wêreld- Ekonomiese Forum se jongste verslag vir jou beteken
Deur Nicolien Welthagen
Die wêreld van werk verander vinniger as ooit. Die Wêreld- Ekonomiese Forum se Future of Jobs Report 2025 toon dat byna een uit elke vyf poste wêreldwyd teen 2030 gaan verander. Sommige poste sal verdwyn, nuwes sal ontstaan, en nuwe vaardighede sal nodig wees om tred te hou.
Wenke vir werksoekers
Wees buigsaam en veerkragtig: Berei jou voor op ʼn vinnig veranderende werksomgewing. Ontwikkel jou kreatiewe denke en veerkragtigheid.
Ontwikkel tegnologiese vaardighede: Fokus op vaardighede in kunsmatige intelligensie (KI), die spesialisontleding van groot en komplekse datastelle, en kuberveiligheid.
Hernubare energie of omgewingsbestuur: Oorweeg ʼn loopbaan in hernubare energie of omgewingsbestuur, aangesien hierdie velde groeiende geleenthede bied.
Lewenslange leer: Wees bereid om deurlopend nuwe vaardighede aan te leer wat relevant is vir jou veld, of brei na nuwe beroepsvelde uit. Neem gereeld deel aan voortgesette leer- en opleidingsprogramme of vaardigheidsontwikkelingsgeleenthede. Solidariteit Leer bied jou nagenoeg 150 aanlyn kursusse om jou te help om voor te bly!
Salarisonderhandeling: Neem aktief deel aan die onderhandeling van jou salarispakket en wees bewus van die stygende lewenskostes wat jou besteebare inkomste kan beïnvloed.
Finansiële beplanning: Ontwikkel goeie finansiële bestuurspraktyke en benut beskikbare hulpbronne om jou finansiële situasie te help bestuur en verbeter.
Bly ingelig: Bly op hoogte van globale geopolitieke tendense en hoe hierdie verwikkelinge jou sektor of beroepsveld kan beïnvloed, sodat jy proaktief daarop kan reageer.
Persoonlike vaardighede:Kritiese en analitiese denke, kreatiwiteit, buigsaamheid, aanpasbaarheid, probleemoplossings- en leierskapsvaardighede, strategiese beplanning en netwerkontwikkeling is noodsaaklik vir ʼn suksesvolle loopbaan.
Wenke vir werkgewers
Belê in opleiding en ontwikkeling: Prioritiseer heropleiding en voortgesette leer van werknemers om vaardigheidstekorte te verminder.
Skep ʼn buigsame werksomgewing: Oorweeg dit om buigsame werksomstandighede te bied, insluitend opsies vir afstandswerk.
Versterk werknemerwelstand en ʼn gesonde werk-lewe-balans: Ondersteun werknemers se geestelike en fisieke welstand om produktiwiteit, motivering en behoud van werknemers te verbeter.
Herstruktureer salarisse en voordele: Pas salarisse aan om werknemers se koopkrag te ondersteun en bied bykomende voordele soos vervoersubsidies, gesondheidsorg en ander leefstylvoordele.
Mentorskap en ontwikkeling: Ontwikkel programme om kennisoordrag van ouer werknemers na jonger generasies te fasiliteer, en moedig ʼn kultuur van mentorskap aan.
Veiligheidsprotokolle: Implementeer omvattende veiligheidsprotokolle en voer risiko-ontledings uit om jou onderneming teen geopolitieke risiko’s te beskerm. Dit sluit in die evaluering van voorsieningskettings en die versterking van netwerk- en kuberveiligheid. Bied ook opleiding in kuberveiligheid en risikobestuur aan werknemers om die onderneming beter te beskerm.
Opsomming van aanbevelings vir werksoekers en werkgewers
In vandag se dinamiese werksomgewing is dit noodsaaklik vir werksoekers om buigsaam, veerkragtig en goed opgelei te wees. Solidariteit moedig werksoekers aan om hul kreatiewe denke en tegnologiese vaardighede te ontwikkel, met ʼn fokus op sleutelgebiede soos kunsmatige intelligensie, grootdata-ontleding en kuberveiligheid. Beroepe in hernubare energie en omgewingsbestuur bied ook groeiende geleenthede. Voortgesette en lewenslange leer is van kardinale belang om aan die voorpunt van jou beroepsveld se ontwikkeling te bly of om jou vaardighede na ʼn nuwe beroepsveld uit te brei. Deur aktief aan salarisonderhandelinge tydens die aanstellingsproses deel te neem en persoonlike finansiële beplannings- en bestuursvaardighede te ontwikkel, kan werksoekers hul koopkrag versterk in ʼn tyd van stygende lewenskostes. Dit is ook belangrik om ingelig te bly oor globale geopolitieke tendense, aangesien dit beroepsvelde en loopbaangeleenthede direk kan beïnvloed. Persoonlike vaardighede soos kritiese en analitiese denke, probleemoplossings- en leierskapsvaardighede is noodsaaklik vir ʼn suksesvolle loopbaan.
Dit is noodsaaklik vir werkgewers om in werknemersopleiding en -ontwikkeling te belê – nie net om vaardigheidstekorte te verminder nie, maar ook om behoud van werknemers te verbeter. Die skep van ʼn buigsame werksomgewing, insluitend opsies vir afstandswerk, kan ʼn gesonde werk-lewe-balans ondersteun. Werkgewers moet ook oorweeg om salarisse en voordele aan te pas om werknemers se koopkrag te ondersteun en om bykomende voordele soos vervoersubsidies en gesondheidsorg te bied. Mentorskapprogramme is ʼn waardevolle manier om kennisoordrag van ouer werknemers na jonger generasies te fasiliteer, terwyl die implementering van veiligheidsprotokolle en die uitvoering van risiko-ontleding die onderneming teen geopolitieke risiko’s kan beskerm, veral wat voorsieningskettings en netwerk- en kuberveiligheid betref. Die verskaffing van werknemersopleiding in kuber- en netwerkveiligheid, sowel as risikobestuur, kan die onderneming se veerkragtigheid verder versterk.
Solidariteit is trots daarop om al sy lede te ondersteun – of hulle nou werksoekers of werkgewers is – en bly daartoe verbind om ʼn positiewe impak in die werkplek te maak.