
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Wanneer drome en onsekerheid kruis: My reis na ʼn onverwagse toekoms
Deur Liané Marx
Elke kind het ʼn droom – daardie een groot droom van wie of wat jy eendag wil wees wanneer jy skool verlaat en in die grootmenswêreld instap. Vir my was dit altyd duidelik: ek wou ʼn onderwyseres word. En tog, soos die lewe dit wou hê, verloop dinge nie altyd volgens plan nie.
Ek onthou hoe ek in matriek gesit het, vasgevang in daardie draaikolk van onsekerheid. Studeer? Werk? Albei? Niks het duidelik gevoel nie. Ek het nie net gewonder wát ek wou word nie, maar ook hóé ek dit sou moes doen.
Die tydperk vir universiteitsaansoeke het in September aangebreek. Ek was verlore. Ek het nie aansoek gedoen nie – nie omdat ek nie wou nie, maar omdat ek eenvoudig nie geweet het wat voorlê nie. Teen Desember het ek ʼn kort kursus aangepak – iets kleins, net om my aan die gang te hou terwyl ek probeer het om myself uit te pluis.
Toe kom Januarie. Ek het doelloos by die huis gesit. Geen plan nie. Geen rigting nie. Net vrae sonder antwoorde. Maar toe ontdek ek iets onverwags – Solidariteit se werkplatform. Ek het my profiel daar ingevul, en in ʼn oogwink het ek ʼn CV gehad! Iets tasbaars. Iets waarmee ek kon begin.
Ek het elke dag net vyf minute opsy gesit om werksgeleenthede te soek. En daardie eenvoudige daad van volharding het my uiteindelik by ʼn werk uitgebring wat ek geniet. Dis dalk nie onderwys nie – nog nie – maar dis ʼn begin. Die droom leef voort. Ek sal dit nog bereik.
My boodskap aan jou? Moenie moed opgee in jou onsekerheid nie. Die lewe volg nie altyd ʼn reguit pad nie, maar selfs die ompaaie bring jou nader aan jou bestemming. En dalk, net dalk, hou Solidariteit ook vir jou iets onverwags in.
Skep jou gratis profiel en neem een stappie nader aan jou droom. Solidariteit bied nuwe oplossings vir elke lewensfase. Van studieondersteuning tot hulpbronne en ʼn tuiste vir studente, werksgeleenthede, mentorskappe en ʼn netwerk van werk. Waarvoor wag jy?
“Liané Marx het in 2024 gematrikuleer. Sy is tans besig met haar internskap by Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling. Haar droom is om onderwys te studeer, maar vir nou loop die lewe eers sy eie draai. Hier deel sy die pad wat sy gestap het tot by haar eerste werk – en herinner ons daaraan dat jy nooit moet ophou streef na jou drome nie.”