Afrikaans

English

loading
Mediaverklarings
11 uur gelede
salarisonderhandelinge-by-flysafair-bereik-n-dooiepunt-vlieeniers-gereed-om-te-staak

Foto Krediet: Okay Deer

Salarisonderhandelinge by FlySafair bereik ’n dooiepunt; vlieëniers gereed om te staak

Onderhandelinge tussen Solidariteit en FlySafair oor verbeterde diensvoorwaardes vir die maatskappy se vlieëniers het ná drie maande op ’n dooiepunt uitgeloop.

Die finale aanbod van FlySafair – ’n salarisverhoging van 5,7% tesame met enkele addisionele aanpassings aan vergoeding – is deur die oorgrote meerderheid van Solidariteit-lede verwerp.

Volgens Helgard Cronje, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, is die verwerping nie slegs aan die inhoud van die aanbod te wyte nie, maar veral aan die uiters gespanne verhouding tussen die vlieëniers en FlySafair se bestuur. “Die verhouding is op ’n absolute laagtepunt,” aldus Cronje.

Reeds vóór die aanvang van die salarisonderhandelinge het ’n geskil oor ’n nuwe skofroosterstelsel ontstaan – ’n kernkwessie vir vlieëniers, aangesien dit ’n negatiewe impak op hul gesinslewe het. Hierdie roostergeskil is wel ’n afsonderlike saak wat, volgens Solidariteit, ná afloop van die staking oor die salarisverhoging ’n volgende moontlike staking kan ontketen.

’n Verdere struikelblok in die salarisonderhandelinge was die maatskappy se nuwe beleid oor verlof- en afdae. Vlieëniers is van mening dat dié beleide hul lewensgehalte benadeel en dat dit ongunstig is en nie aan die minimum verwagtinge voldoen nie.

Solidariteit en Safair sal op Donderdag 17 Julie onder leiding van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) die stakingreëls finaliseer. Die eerste staking rakende die salarisgeskil kan dan enkele dae later ’n aanvang neem.

Intussen is Safair ook vasgevang in afsonderlike salarisonderhandelinge vir die kajuitpersoneel wat volgens alle aanduidings ook op ’n geskil afstuur.  

“Hierdie onderhandelinge kan as ’n mislukking in arbeidsverhoudinge beskou word,” sê Cronje. “Die gebrekkige verhouding tussen bestuur en vlieëniers het nou daartoe gelei dat die publiek die gevolge van onopgeloste werkplekkonflik sal dra.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel