loading
Artikels
2 maande gelede
solidariteit-eis-r1-1-m-namens-lid-na-onregverdige-salarisvermindering

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit eis R1,1 m. namens lid ná onregverdige salarisvermindering

Deur Heléne Mocke                

Solidariteit het betyds ingegryp namens ʼn lid wat ná meer as 13 jaar se diens by ʼn maatskappy byna ʼn gedeelte van sy inkomste op ʼn onregmatige wyse verloor het.

Die betrokke lid het onverwags en sonder sy toestemming en medewete ʼn kennisgewing van ʼn voorgestelde 30%-salarisvermindering van sy werkgewer ontvang.

Solidariteit het verskeie amptelike skrywes aan die lid se werkgewer gerig om hierdie saak te ondersoek. Die volgehoue druk het daartoe gelei dat ʼn skikkingsbedrag van meer as R1 100 000 uiteindelik aan die lid toegeken is. 

Die lid, mnr. T. Puzicha, werk sedert 2011 by dieselfde maatskappy en het in Julie 2024 ʼn onverwagse kennisgewing van ʼn voorgestelde salarisvermindering ontvang. Hierdie 30%-salarisvermindering sou deur sy werkgewer afgedwing word sonder enige vorm van konsultasie of die nodige toestemming van die werknemer. Dit het tot groot kommer oor die regmatigheid van die optrede gelei. 

Volgens Zane Hanekom, ʼn litigant by Solidariteit, is die lid se oorspronklike posisie deur sy werkgewer as oorbodig verklaar. Die maatskappy het hom ʼn alternatiewe pos aangebied wat drasties van sy vorige rol verskil – dit het nuwe en groter verantwoordelikhede behels.

“Die nuwe posbeskrywing het omtrent 80% van sy ou pos se pligte verskil,” verduidelik Hanekom. “Die werkgewer het verder aangedui dat indien ons lid nie die nuwe pos aanvaar nie, hy sonder enige afleggingspakket afgedank sal word.” 

Hierdie alternatief was nie vir mnr. Puzicha aanvaarbaar nie. Hy sou nie net ʼn pos moes beklee waarvoor hy nie die nodige vaardighede of ervaring het nie, maar hy sou ook 30% minder verdien. Indien hy nie aan die vereistes van die nuwe pos kon voldoen nie, sou dit ʼn risiko vir toekomstige dissiplinêre stappe ingehou het. Die lid het hom dus in ʼn moeilike posisie bevind, waar die aanvaarding van die alternatiewe pos hom finansieel sou benadeel en moontlik verdere professionele implikasies sou inhou. 

Solidariteit het vinnig opgetree deur amptelike korrespondensie aan die werkgewer te stuur waarin die organisasie die werkgewer daarop gewys het dat die voorgestelde posaanpassing nie net onredelik is nie, maar dat dit ook die lid in ʼn uiters nadelige posisie sou plaas.

Solidariteit het gewaarsku dat indien die maatskappy sou voortgaan om die lid te dwing om die pos te aanvaar, of hom andersins sonder ʼn afleggingspakket sou afdank, regstappe geneem sou word om die lid se regte te beskerm. 

Die werkgewer het ná Solidariteit se ingryping ingestem om die saak te skik. ʼn Skikkingsbedrag van R1 112 127 is uiteindelik aan die lid toegeken – byna drie keer die bedrag waarop die lid ingevolge bestaande arbeidswetgewing geregtig was. Hierdie uitkoms verteenwoordig ʼn noemenswaardige oorwinning vir Solidariteit en sy lid, en dien as ʼn bewys van Solidariteit se vermoë om sy lede se belange voorop te stel en dit doeltreffend te beskerm, asook om lede se regte in arbeidsverwante geskille te onderhou. 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel