Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit help busbestuurder ná afdanking weens skraap op bus
Deur Robin-Lee Maré
Solidariteit het onlangs nóg ʼn belangrike oorwinning namens een van sy lede, Loyiso Mtshali, behaal nadat ʼn arbiter bevind het sy ontslag as ʼn busbestuurder te streng en uiteindelik onbillik was.
Die uitspraak is deur die Suid-Afrikaanse Padpassasiersbedingingsraad (SARPBAC) gemaak nadat Mtshali ontslaan is ná ʼn voorval waartydens ʼn bus beskadig is toe dit by ʼn hek gedraai het.
Mtshali is deur sy werkgewer aangekla van nalatige en roekelose bestuur, skade aan ʼn maatskappyvoertuig en optrede wat glo die werkgewer se verhouding met sy kliënt benadeel het. Die voorval het plaasgevind toe Mtshali ʼn draai deur ʼn hek by ʼn kliënt se perseel gemaak het. Volgens getuienis het Mtshali probeer om ʼn ander voertuig wat naby die ingang geparkeer was te vermy, waarna die bus teen ʼn staalstaaf by die hek geskuur het.
Hoewel die werkgewer aangevoer het die ontslag was geregverdig, het die arbiter bevind die sanksie was te streng onder die omstandighede. Mtshali is uiteindelik met die hulp van Solidariteit vergoeding gelykstaande aan vier maande se salaris toegeken.
Volgens Johandré van Zyl, litigant by Solidariteit, wys dié uitspraak weereens hoe belangrik dit is vir werknemers om toegang tot ʼn vakbond te hê wat bereid is om vir hul regte te veg.
“Solidariteit sal nie huiwer om ons lede by te staan indien hulle onbillik ontslaan word nie. Hierdie saak wys duidelik werkgewers kan nie sommer bloot die swaarste moontlike straf oplê sonder om die volledige omstandighede behoorlik in ag te neem nie,” sê Van Zyl.
Van Zyl benadruk dat baie werknemers magteloos voel wanneer hulle teen groot maatskappye moet opstaan, maar dat Solidariteit juis bestaan om daardie geborgenheid aan lede te bied.
“Solidariteit skep geborgenheid deur as vakbond op te staan vir ons lede se regte. Ons lede mag nooit ʼn onregverdige uitkoms bloot uit vrees of intimidasie aanvaar nie. Ons sal voortgaan om ons lede by te staan teen onbillike optrede deur werkgewers. Ons mandaat is om toe te sien dat billikheid in die werkplek gehandhaaf word,” voeg Van Zyl by.