Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Solidariteit – jou eenstopplek vir jou loopbaan
Deur Heléne Leonard
Solidariteit bied oneindige geleenthede aan sy lede waar hulle die voordele van jongs af kan ervaar. Van hulp met werksvoorbereiding en ʼn werksgemeenskap tot werksbeskerming, is Solidariteit dié plek vir jou.
Solidariteit streef daarna om ʼn student se hand te vat en ʼn loopbaanpad met hom of haar te stap. Vakkeuses, studiemoontlikhede, ʼn curriculum vitae (CV) wat jou sal laat uitstaan, skaduwerk en internskappe is van die voordele wat jy by Solidariteit kan kry.
Raino Botha, ʼn BA-student in Kommunikasie en Joernalistiek aan Akademia (die privaat hoëronderwysinstelling wat deel is van die Solidariteit Beweging) en ʼn Solidariteit- ambassadeur vir skoliere, meen dat dié instelling sy studiedrome van skooldae af bewaarheid. “Ek is al vir ʼn paar jaar ʼn lid van Solidariteit. Ek het vakkeuse-aande bygewoon en ek het al skaduwerk gedoen. Ek het ook geleer hoe om ʼn CV saam te stel en ek is gereed om die werkplek te betree – al is ek nou eers in my tweede jaar van studie,” sê hy. Botha het in 2022 ‘n internskap van ‘n maand lank by Pretoria FM voltooi.
Nie net help Solidariteit ʼn student om werkservaring op te doen nie, dit help die einste student later in die werkplek. Solidariteit bied ook ʼn beroepsgemeenskap vir jong werkendes. In Solidariteit vind lede ʼn vriend wat ook ʼn jong werkende is wat die pad saam met hulle stap sodat hulle dit nie alleen hoef te doen nie. Dié beroepsgemeenskap is ʼn vriend wat jou drome, passie en visie vir die toekoms verstaan. Dit is ʼn vriend wat jou deel maak van ʼn gemeenskap van jong werkendes, waar jy net jouself kan wees en aan jou toekoms kan werk.
Elisma van der Watt, ʼn BA-student in Kommunikasie en Joernalistiek aan Akademia, het reeds die werkplek betree deur ʼn internskap wat sy by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) gekry het danksy die voordele van Solidariteit-lidmaatskap. Sy is as jong werkende dankbaar vir die geleenthede wat Solidariteit en die werkgemeenskap haar bied. “Ek het ʼn mentor by die SOS en ek bou reeds ʼn werknetwerk vir myself op,” vertel sy. Danksy dié werksondervinding het Van der Watt ook die geleentheid om deel te wees van ʼn beroepsnetwerk waar sy in kontak kom met talle ander werkendes wat in dieselfde beroep as sy staan.
Elisma van der Watt, lid van Solidariteit, het onlangs die voorreg gehad om ʼn internskap by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) te voltooi. FOTO: Heléne Leonard
Sy meen ook dat dié internskap nie die einde van haar loopbaanreis saam met Solidariteit is nie. “Daar is soveel geleenthede by Solidariteit. Ek kan op die voorpunt van my beroep bly met Solidariteit,” vertel Van der Watt. Solidariteit is ʼn platform wat voortgesette professionele opleiding vir werkendes bied. Hierdie kortkursusse word deur topspesialiste van Solidariteit aangebied.
Verder bied Solidariteit ʼn aanlyn platform wat skakeling tussen werkgewers en potensiële werknemers bewerkstellig. Dit staan bekend as Werknet. “As ek eendag op soek is na werk, bied Solidariteit my die geleentheid om op ʼn betroubare webwerf na werk te soek,” sê Van der Watt.
Solidariteit se onderskeie beroepsnetwerke beskerm ook lede en hul beroepe deur as waghond vir die beroepe en lede se belange op te tree. “Die netwerke en hul lede hou verwikkelinge in al die verskillende beroepsvelde dop en kan diskriminasie of onregverdige optrede takel. “Ek het ook toegang tot regsadvies van topprokureurs wat my help om my plek in die werkplek te behou as dit bedreig sou word,” sê Van der Watt.
Sluit vandag nog aan by www.solidariteit.co.za en bewaarheid jou loopbaandroom met Solidariteit.