loading
Mediaverklarings
3 maande gelede
solidariteit-nader-nedlac-oor-nasionale-dag-van-protes-teen-bela

Foto Krediet: Oka deer

Solidariteit nader Nedlac oor nasionale dag van protes teen Bela

Solidariteit het die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) ingevolge artikel 77 van die Wet op Arbeidsverhoudinge in kennis gestel van sy voorneme om ʼn nasionale dag van protes teen die Bela-wetgewing te hou. 
Indien Nedlac die kennisgewing ontvanklik verklaar, sal ʼn bemiddelingsproses tussen Solidariteit en die regering plaasvind om te kyk of ʼn skikking bereik kan word. Indien nie, sal Nedlac ʼn sertifikaat uitreik wat beteken dat Solidariteit-lede beskermd sal wees as hulle aan die protesaksie deelneem. 
Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, het Solidariteit Nedlac versoek om die proses dringend te hanteer, aangesien pres. Ramaphosa net drie maande gegee het voordat artikels 5 en 6 van die wet in werking gestel word. 
“Ons is skepties oor die gesprekke, maar sal met ʼn oop gemoed daaraan deelneem. Solidariteit en AfriForum voer ook ander bilaterale gesprekke met verskeie politieke partye. Verskeie organisasies en onderwysinstellings het ook hul mandaat vir dié gesprekke aan ons gegee. 
“Dit gaan waarskynlik nodig wees om groter druk uit te oefen. Ons gaan mense vra om een dag af te staan vir die toekoms van ons kinders.
“Ons is uiters gefrustreer met die houding van die ANC, en spesifiek van die ANC in Gauteng, teenoor Bela. Die ANC verstaan die taal van nasionale protes. Ons het nou geen keuse as om hulle taal te praat nie,” sê Van der Bijl.
Die nasionale dag van protes sal saam met AfriForum, ander instellings van die Solidariteit Beweging en talle ander Afrikaanse organisasies gehou word. 
Volgens Van der Bijl is ʼn finale datum nog nie vasgestel nie. 
“Indien ʼn regering ons kinders teiken, het ons geen keuse as om wettige protes aan te teken nie. Alhoewel dit ʼn protesaksie is, beplan ons om dit so aan te pak dat gesinne daaraan kan deelneem. 
“Dit is immers ʼn saak wat gesinne raak. Daar sal geen skade aangerig word of enige gemors agtergelaat word nie, maar ʼn kragtige stem gaan opgaan. 
“Ons sal egter alles in ons vermoë doen om ʼn skikking deur onderhandeling en bemiddeling te bereik,” sê Van der Bijl.
Die Bela-wetgewing verleen aan die hoof van ʼn  provinsiale onderwysdepartement die mag om aan ʼn skool opdrag te gee om sy taalbeleid te verander. Die hoof van die onderwysdepartement het ook die finale sê oor die toelating van leerlinge by skole. 
Vir Solidariteit beteken Bela dus dat Afrikaanse skole aan die genade van ʼn amptenaar uitgelewer word. Bela word as ʼn daad van aggressie teen ons gemeenskap gesien. 
Pres. Ramaphosa het die Bela-wetgewing onlangs onderteken. Hy het ná gesprekke met Solidariteit en AfriForum onderneem om artikels 5 en 6 van die wet vir drie maande nie in werking te stel nie. In hierdie drie maande moet gesprekke gevoer word om ʼn oplossing te vind. 
Indien die gesprekke nie suksesvol is nie en die gewraakte artikels gepubliseer word, het Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuning (SOS) reeds aangekondig dat hulle met ʼn hofsaak sal voortgaan.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel