loading
Mediaverklarings
1 week gelede
solidariteit-nie-te-vinde-vir-meibc-se-loonaanbod-vir-ambagslui

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit nie te vinde vir MEIBC se loonaanbod vir ambagslui

ʼn Onvriendelike loonaanbod vir vaardige ambagslui het Solidariteit vandag met geen ander keuse gelaat nie as om die aanbod van die hand te wys wat in die onderhandelinge wat onder toesig van die Bedingingsraad van die Metaal- en Ingenieursbedrywe (MEIBC) in Boksburg gemaak is nie.

Verteenwoordigers van die metaal- en ingenieursbedrywe het vandag (8 Mei 2024) onder toesig van die MEIBC vir die laaste ronde van die loononderhandelinge vergader.

Die finale loonaanbod wat deur die werkgewersorganisasie Seifsa namens verskeie werkgewersorganisasies gemaak is, is egter só saamgestel dat die verhogings, soos in die geval van die vorige ooreenkoms vir 2021-’24 op die minimum loonskale per poskategorie bereken word.

Die uiteinde daarvan is dat vaardige ambagslui op hoër loonskale ontsaglik benadeel word.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, verduidelik dat die finale aanbod vir die eerste jaar van die ooreenkoms tussen 7% vir ongeskoolde werknemers en 6% vir geskoolde werknemers wissel, maar voeg by dat die verhogings op die laagste loonskale bereken word.

“Vir die tweede en derde jare van die ooreenkoms is die aanbod 6% vir ongeskoolde werknemers en 5% vir geskoolde werknemers ook op die minimum loonskale bereken.

“Aangesien die loonverhogings nie op die werklike lone bereken word nie, sal die ambagslui en ander vaardige werknemers se verhogings tussen 2% en 3% wees, en ná statutêre aftrekkings kom dit in werklikheid op ʼn verhoging van net oor die 1% neer, sê Du Plessis.

Volgens Du Plessis is verhogings in die vorige driejaarooreenkoms op die minimum loonkoerse bereken as ʼn kompromis ná Covid-19. Hy glo dit was onder die omstandighede te verstane.

Tog wys hy daarop dat die voortsetting van hierdie diskriminerende praktyk vir ʼn verdere driejaartydperk beteken dat ambagslui vir ses agtereenvolgende jaar verhogings van ver benede inflasie sal ontvang.

“Solidariteit is nie gekant teen gunstige verhogings vir ongeskoolde werkers nie, maar is wel ten sterkste gekant teen die lae verhogings wat vaardige werknemers ontvang waarmee die intreevlakverhogings van bo die inflasiekoers gesubsidieer word.

“Die gevolg is dat die gaping in vergoeding tussen ongeskoolde werknemers en gekwalifiseerde ambagslui baie klein geword het,” sê Du Plessis.

Solidariteit se finale eis van ʼn minimum verhoging van 5% op werklike lone is deur die werkgewers verwerp. Solidariteit se bedryfsraad vir die metaal- en ingenieurswesebedryf het die Solidariteit-onderhandelaars dus versoek om nie die ambagslui-onvriendelike ooreenkoms te onderteken nie, selfs al besluit ander vakbonde wat by die onderhandelinge betrokke is om die werkgewers se aanbod te aanvaar.

Solidariteit sal waarskynlik die voorgeskrewe geskilroete moet volg, maar doen intussen ʼn beroep op werkgewers om hul vaardige werknemers na waarde te skat.

“Ons vra dat verhogings, soos wat voor 2021 die geval was, op ambagslui se werklike loonkoerse bereken word. Dit sal nie net dié benadeling tot ʼn  einde bring nie, maar ook die uittog van vaardige werknemers beperk,” sê Du Plessis.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel