
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit reis 1 400 kleurvolle kilometers vir Afrikaans
Solidariteit is besig om sy tasse te pak vir ʼn geskiedkundige reistog na die Afrikaanse Taalmonument saam met agt ander instellings van die Solidariteit Beweging. Op 1 Mei 2025 vertrek hierdie konvooi op ʼn simboliese tog van Pretoria tot by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl as deel van die Afrikaans 100-veldtog. Hierdie veldtog bevestig dat Afrikaans nie net in museums hoort nie, maar in werkplekke, skole en gemeenskappe waar dit werklik leef. Lees hier meer oor hierdie reistog en hoe jy Afrikaans se eeufeesviering saam met Solidariteit kan vier.
Deur Kyla-Ann du Toit
1 400 km vir Afrikaans! Op 1 Mei 2025 pak Solidariteit, saam met agt ander instellings van die Solidariteit Beweging, ʼn simboliese tog aan na die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl – en neem letterlik ʼn hele woord saam.
Dit is nie sommer ʼn gewone reis nie. Nege reusagtige, kleurvolle letters wat die woord “Afrikaans” spel, vertrek op dié dag saam met ʼn konvooi uit Pretoria. Hierdie letters gaan op oop voertuie vasgemaak word, en dit vorm deel van die Afrikaans 100-veldtog wat twee jaar gelede van stapel gestuur is. Hierdie letters sal via die N1 tot by die Afrikaanse Taalmonument reis, waar dit dan tydens die Afrikaans 100-feesviering uitgestal sal word.
Afrikaans op wiele
Die doel van hierdie reistog is veel meer as net die eeufeesviering van Afrikaans as amptelike landstaal. Dit is ʼn reistog met ʼn duidelike boodskap: Afrikaans leef; Afrikaans groei; Afrikaans bring mense saam. Elke letter dra nie net kleur nie, maar ook betekenis: veerkragtigheid, trots en ʼn ryk kultuurerfenis.
Solidariteit is een van nege instellings wat aan hierdie reis deelneem, saam met AfriForum, Maroela Media, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), Akademia, Sol-Tech, Solidariteit Helpende Hand, Ons Winkel en die FAK. Saam simboliseer hierdie instellings ʼn gemeenskap wat in Afrikaans droom, werk, bid en bou.
Die Afrikaans 100-veldtog gaan egter nie net oor nostalgie en feesviering nie. Dit is ʼn toekomsprojek – ʼn herbevestiging van Afrikaans se plek in die toekoms van Suid-Afrika én die res van die wêreld. Dit is ʼn verklaring dat Afrikaans steeds ʼn lewende, dinamiese taal is en dat daar gemeenskappe is wat bereid is om daarvoor te veg.
Ons lééf Afrikaans
Vir Solidariteit is Afrikaans nie net iets wat ons praat nie – dit is iets waarin ons leef. Dit is hoekom Solidariteit elke dag hard werk om dié taal se toekoms te beskerm. By Solidariteit glo ons dat Afrikaans nie net ʼn kulturele trots is nie, maar die taal is waarin ons werk, leer en gemeenskappe bou.
Solidariteit se platform vir werk en leer is ʼn bevestiging hiervan. Hier kry gebruikers toegang tot onder meer duisende werksgeleenthede, aanlyn kursusse, nuus en beroepsnetwerkgroepe – alles in Afrikaans. Ons skep ʼn ruimte waar jy in jou moedertaal kan groei, jou beroep kan uitleef en jou plek in die samelewing kan vol staan. Ons glo nie dat Afrikaans slegs in glas en rame bewaar moet word nie – dit moet werklik lééf! Daarom bou Solidariteit aktief aan ʼn toekoms waarin ons in Afrikaans kan praat, werk, leer én leef.
Breyten Breytenbach sê dit soos min ander kan:
wanneer jy die moedertong
in my mond laat verdor
neem jy die wêreld weg …
So lui sy gedig “Die tongvervreemding” – woorde wat die hart van die Afrikaans 100-veldtog vasvang. Afrikaans is nie net woorde op papier nie. Dit is wie ons is. Dit is ʼn taal wat ons nie net wil bewaar nie, maar vier – in ons skole, in ons huise, in ons kerke en in ons werkplekke.
Reis saam met Solidariteit
Solidariteit nooi jou uit om die reis saam met ons aan te pak. Hou ons sosialemediaplatforms dop vir meer inligting oor hierdie letterprojek en reis saam met ons!
Klik hier vir meer inligting oor Afrikaans Amptelik 100.
Skep ook vandag jou gratis profiel op Solidariteit en raak tuis by jóú Afrikaanse aanlyn gemeenskap.