
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit se BGV staan bankvas agter sy lede
Deur Maryna Eksteen
Solidariteit se bestaansdoel is en bly werk. Solidariteit se werkstrategie het verander as gevolg van ingrypende politieke en ekonomiese veranderings. Voorheen was die tradisionele vakbond ʼn goeie voertuig om werk te beskerm en diensvoorwaardes te verbeter. Vandag is Solidariteit egter soveel meer as net ʼn tradisionele vakbond – dit het omvorm in ʼn aanlyn werkgemeenskap wat die volle loopbaanpad saam met sy lede stap. Solidariteit bied ook werkbeskerming om sy lede teen diskriminasie en uitbuiting in die werkplek te beskerm.
Agter die skerms van die werkgemeenskap is Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid (BGV) werksaam met eise oor beroepsverwante insidente wat deur Solidariteit-lede ingestel word. Volgens Johan Böning, afdelingshoof van die BGV-afdeling, bestaan dié afdeling uit twee eenhede, naamlik die BGV-litigasie-eenheid en die eenheid vir beserings aan diens (BAD).
Die BAD-eenheid bestaan uit ses eisebeamptes wat die afdeling onder leiding van Sonja van Heerden vlot laat verloop. Hierdie eenheid bemoei hulleself met eise vir beserings aan diens en beroepsverwante siektes wat Solidariteit-lede in die gesig moet staar. Volgens Böning hanteer dié afdeling jaarliks honderde eise en staan hulle bankvas agter lede. In die resgspraktisynseenheid het die BGV ook vier spesialisregspraktisyns wat onder andere merietebepalings op honderde BAD-lêers doen. Hul taak sluit ook in die opstel van hersieningsaansoeke op BAD-eise, die opstel van besware op BAD-eise en regsopinies oor BAD- en BGV-aangeleenthede.
Die harde werk stop egter nie by beserings aan diens nie. Die BGV-afdeling is konstant proaktief betrokke by opleiding in beroepsgesondheid en -veiligheid by verskeie instellings sowel as die opstel van opleidingsmodules wat aangepas word vir verskillende behoeftes, werkplekke en wette. Verder is die afdeling werksaam met oudits by opleidingsinstansies soos Sol-Tech, Akademia, Helpende Hand en Bo-Karoo Opleiding. Die afdeling fokus ook op BAD-oudits van beroepsbeserings of op beroepsverwante siektelêers by verskillende vergoedingsfondse. Wanneer die span nie proaktief optree nie, is hulle reaktief besig met die verteenwoordiging van Solidariteit-lede by die verskillende vergoedingsfondse, en hulle verteenwoordig ook lede, op versoek, by verhoorondersoeke, veral in die mynbousektor.
Die BGV-afdeling verteenwoordig ook Solidariteit-lede in bedryfsforums soos die Myngesondheid- en -veiligheidsraad (MHSC) en sy vier subkomitees, die adviesraad van die Vergoedingsfonds vir beroepsverwante siektes in myne en bedrywe, mynbouforums en werkgewerstrukture.
Die BGV se taak is om ʼn veilige werkomgewing te verseker waar lede vry, veilig en voorspoedig kan wees. Indien jy nog nie ʼn Solidariteit-lid is nie, klik hier. Moenie wag vir die noodlot voordat jy proaktief optree nie. Raak vandag nog betrokke sodat ons jou kan bystaan.