
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit se #JouYster-wenner vir 2025 is aangekondig
Die #JouYster-kompetisie eer uitnemende ambagslui wat hul stempel in die ambagbedryf afdruk en hul kennis met die volgende geslag deel. Ná ʼn intensiewe beoordelingsproses deur die loop van Ambagdag op 15 Maart is Solidariteit se #JouYster-wenner vir 2025 aangewys. Lees hier om uit te vind wie die #JouYster-wenner vir 2025 is.
Deur Kyla-Ann du Toit
“Ambag in my are.” Dit is presies wat die #JouYster-wenner van 2025 verpersoonlik.
Die #JouYster-wenner vir 2025 is vandag tydens Ambagdag aangewys. Hierdie toekenning, wat ʼn jaarlikse instelling van die Solidariteit Ambagnetwerk is, vier uitstaande ambagslui wat hul stempel in die bedryf afdruk en hul kennis met die volgende geslag deel.
Vanjaar se topvyf-finaliste was Vickus Pieters, Gerhard Strauss, Cobus Gates, Clinton van der Mescht en Petrus du Toit. Ná ʼn intensiewe beoordelingsproses deur die loop van die dag het Cobus Gates as die #JouYster-wenner vir 2025 uitgeblink.

Uitmuntendheid in die ambagswêreld
Die finaliste het op Ambagdag deur twee uitdagende rondes teen mekaar meegeding waartydens hul praktiese vaardighede en tegniese kennis getoets is. Gates het uiteindelik die beoordelaars met sy indrukwekkende vakmanskap en toewyding aan sy ambag beïndruk.
“Dit is vir my ʼn baie groot voorreg,” sê Gates. “Ek wil graag vir Solidariteit en almal wat my ondersteun het bedank. Sonder hulle sou ek nie vandag hier gewees het nie.” Hy beklemtoon die waarde van harde werk, deursettingsvermoë en passie in sy loopbaan as ambagman en moedig jong ambagslui aan om hul drome met toewyding na te jaag.

Die impak van die #JouYster-kompetisie
Die doel van die #JouYster-kompetisie is nie net om erkenning aan uitnemende ambagslui in die ambagswêreld te gee nie, maar ook om ʼn groter verskil in dieambag bedryf te maak. Die wenner kry die eer om ʼn beurslening, wat na hom vernoem word, aan ʼn behoeftige voornemende Sol-Tech-student toe te ken. Hierdie beurs help ʼn jong ambagsman of -vrou om ʼn gesogte rooiseëlkwalifikasie in enige ambag van sy of haar keuse te verwerf om sodoende sy/haar toekoms in die ambagswêreld te bou.
Daarbenewens kry die #JouYster-wenner die geleentheid om as ʼn mentor vir ʼn jonger persoon op te tree. As ʼn mentor kan Gates ʼn tasbare bydrae tot die ambagsberoep maak.

Ambagte bou toekomsdrome
“Ambagdag is ʼn ongelooflike belewenis en word elke jaar groter,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “As ek hierdie dag in een woord kan opsom is dit trots! Die #JouYster-kompetisie is ʼn hoogtepunt van die hierdag en ambagslui, soos Cobus Gates, word erken vir hul harde werk en toewyding aan die ambagte. Dit is werklik iets om op trots te wees!”
Die Solidariteit Ambagnetwerk speel ʼn onmisbare rol in die ondersteuning van ambagslui en die bou van ʼn sterk beroepsgemeenskap. Hierdie netwerk beywer hom vir die bevordering en erkenning van ambagsvaardighede om ʼn volhoubare toekoms vir ambagslui in Suid-Afrika te verseker.
Sluit vandag nog by Solidariteit aan en word deel van ʼn netwerk wat ambagte en toekomsdrome bou.