Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Ken jy ʼn yster in die ambagte? Nomineer hulle vir #JouYster 2026!
Deur Leré Nel
Ons ken almal ʼn ambagspersoon wat vir geen uitdaging terugstaan nie. Hulle is trots op hul handewerk. Hulle bou terwyl ander breek, maak dinge reg terwyl ander nog kopkrap en leef elke dag hul roeping met trots uit.
Dit is die mense wat ons gemeenskappe en ons land aan die gang hou – die mense wat letterlik én figuurlik die wiele aan die draai hou. Dít is die mense wat erkenning verdien.
Die Solidariteit Ambagnetwerk se gewilde #JouYster-kompetisie is terug vir 2026, en nominasies is nou amptelik oop.
Volgens Dirk Smit, organiseerder van die Solidariteit Ambagnetwerk, bied hierdie jaarlikse kompetisie aan die publiek die geleentheid om dankie te sê vir ambagspersone wat hul werk met uitnemendheid doen.
“Elektrisiëns, gereedskapmakers, sweisers, dieselwerktuigkundiges en al die ander – #JouYster is daar om hulle stories te vertel en hul bydrae te vier,” sê Smit. “Dit bring waardigheid terug na beroepe wat veels te min erkenning ontvang vir die hoogs gespesialiseerde en tegniese werk wat hulle doen.”
Die kompetisie vier nie net uitnemende ambagslui wat aan ons land bou nie, maar dien ook ʼn groter doel.
Deur #JouYster word daar jaarliks ʼn beurslening in die wenner se naam aan ʼn verdienstelike, behoeftige student toegeken om aan Sol-Tech te studeer. Dit beteken jou nominasie vereer nie net ʼn besonderse ambagpersoon nie – dit kan ook help om ʼn jong persoon se toekoms te bou.
Wat kry die wenner?
Pryse sluit in:
1. 1. Die #JouYster-2026-titel
2. 2. ʼn Beurslening aan ʼn behoeftige student in die naam van die wenner
3. 3. Eerste plek: pryse ter waarde van R10 000
4. 4. Eerste plek: N4-N6-ingenieurstudie ter waarde van R26 400
5. 5. Tweede en derde plek ontvang elk ʼn unieke geskenkpakkie
Volgens vorige wenners en deelnemers lê die waarde van die #JouYster-kompetisie nie net in die titel nie, maar in die platform wat dit skep: ʼn plek waar ambagslui mekaar kan ontmoet, kennis kan deel en saam kan werk aan die bevordering van hul beroepe.
So waarvoor wag jy? As jy ʼn ambagspersoon van staal ken en wil sien hoe hulle sukses in hul beroep behaal, nomineer hulle nou vir #JouYster!
Dink aan daardie persoon wat altyd ʼn plan maak.
Die een wat nie kla nie, maar doen.
Die een wat met sy of haar hande ʼn verskil maak.
Nomineer hulle hier vir #JouYster 2026.
Nominasies sluit op 3 Junie 2026.