Foto Krediet: Facebook | QCTO
Gekopieër
Rooiseëlsertifikate: Nagenoeg 700 jong ambagslui wag nog steeds
Leré Nel
Meer as 670 jong ambagslui regoor Suid-Afrika wag al langer as die vasgestelde wagperiode vir hul rooiseëlsertifikate ondanks die feit dat hulle lankal reeds hul vaktoetse geslaag het. Hierdie administratiewe vertraging hou verskeie ongewenste gevolge vir jong ambagslui in.
Volgens Stef Pretorius, koördineerder van Solidariteit se Ambagnetwerk, het die organisasie ’n lys van 672 Sol-Tech-studente ontvang wat al langer as die voorgeskrewe wagperiode vir hul kwalifikasie wag. “Daar is egter baie ander instansies – beide staatsbeheerde instansies en privaat – wat met presies dieselfde probleem sukkel,” sê Pretorius.
Die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) se beleid vereis dat die uitreikingsproses van rooiseëlsertifikate nie langer as twee maande en drie weke behoort te neem nie. Indien ʼn student se sertifikaat binne drie maande nog nie uitgereik is nie, moet daar navraag gedoen word.
“Ondanks die feit dat Sol-Tech reeds verskeie navrae namens studente aan die QCTO gerig het, wag talle studente nou al maande om uiteindelik hulle kwalifikasie te ontvang,” sê Pretorius.
Studente wat by ʼn sekere werkgewer hul vakleerlingskap voltooi het en ʼn werksaanbod van dieselfde werkgewer ontvang het, kan eers as ambagspersoon aangestel word wanneer daar bewys van ʼn kwalifikasie gelewer word. “Hierdie studente bly dus op vakleerlingsalaris (gewoonlik tussen R8 000 en R10 000 per maand) terwyl hulle eintlik reeds teen ʼn groter, markverwante salaris aangestel kan word,” verduidelik Pretorius.
Dit sorg natuurlik vir baie frustrasie onder die studente. “Nie net kan hulle tot en met R15 000 per maand verloor wat hulle toekom nie,” sê Pretorius, “maar hulle bly vasgevang in ʼn stadium van hul loopbaan wat eintlik al verby moet wees. Hulle kan nie aanbeweeg nie.”
Benewens die finansiële verlies, beperk die gebrek aan ’n sertifikaat ook baie studente se loopbaanvooruitsigte. “Sou hulle wou, kan hulle nie vir ander poste aansoek doen sonder ʼn bewys van kwalifikasie nie,” sê Pretorius. “Alhoewel 90% van Sol-Tech-gegradueerdes met ʼn werksaanbod uitstap, is daar tog steeds studente wat nie so gelukkig is nie. Sonder ʼn sertifikaat kan hulle maande sonder werk sit – al het hulle hul vaktoets geslaag.”
Die QCTO skryf die vertraging toe aan administratiewe uitdagings, onder meer dokumentasie wat glo nie volledig vanaf die Nasionale Ambagsmodereringsliggaam (NAMB) ontvang is nie. Pretorius beklemtoon egter dat Sol-Tech sy vermoë gedoen het om te verseker dat dokumentasie korrek en volledig ingedien is.
Hierdie situasie stuur ook volgens Pretorius ’n ontmoedigende boodskap aan jong mense wat ʼn ambag as beroep oorweeg.
“Dit is uiters onregverdig dat jong ambagslui só baie harde werk en sweet moet insit net om daarna vir ellelange burokratiese prosesse te wag voordat hulle hul loopbaan behoorlik kan afskop,” sê hy.
Hy waarsku ook dat hierdie tipe administratiewe traagheid bydra tot die breër vaardigheidstekort in die land. “Goed opgeleide ambagslui is in hoë aanvraag. Ons kan nie bekostig om hulle op hierdie manier terug te hou nie.”
Pretorius beklemtoon dat die traagheid van staatsinstellings nie ambagslui se loopbaanvooruitsigte behoort te belemmer nie. Daarom het die Solidariteit Ambagnetwerk met sy regspan gekonsulteer oor moontlike klasaksie-litigasie om hierdie ongeregtigheid aan te spreek, om die uitreiking van sertifikate te versnel en prosesse te verbeter sodat hierdie probleem nie weer kop uitsteek nie.
Hierdie tipe klasaksie vereis wel dat die Solidariteit Ambagnetwerk namens spesifieke lede moet optree. Dit beteken, in eenvoudige terme, dat die netwerk nie ambagslui kan help wat nie lede van Solidariteit is nie.
“Die Solidariteit Ambagnetwerk is daar om ons lede te beskerm,” sê hy. “Deur lidmaatskap op te neem en deel van die netwerk te word, help jy nie net jouself nie, maar ook die volgende generasie ambagslui.”
Pretorius moedig enige ambagspersoon wat deur hierdie vertraging geraak word, aan om deel van hierdie aksie te word. Sluit as lid aan, word deel van die Solidariteit Ambagnetwerk en beskerm só jou regte en inkomste.
Klik hier om deel te word van die aksie!