loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
groter-en-beter-opleidingsinstellings-gaan-van-krag-tot-krag

Foto Krediet: Sol-Tech | Facebook

Groter en beter: Opleidingsinstellings gaan van krag tot krag

Deur Leré Nel

Daar is ʼn tyd vir groter bou. En wanneer jy alreeds so groot gebou het soos wat jy kan, hoe dan gemaak? Dán moet jy dít wat jy reeds gebou het, versterk en verbeter. Bou gebeur in fases: groter, dan beter, dan weer groter, en so gaan dit aan.

Só het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, eens gesê.

Elkeen van die Solidariteit Beweging se opleidingsinstellings wat opgerig word, is ʼn versekeringspolis vir jou kinders se toekoms – óns kinders se toekoms.

Hier is ʼn kort nuusbulletin oor wat elkeen van die opleidingsinstellings tot dusver in 2026 vermag het.

Akademia

Die splinternuwe Paarl-kampus het vanjaar amptelik sy deure vir voltydse studente geopen. Sedert die begin van die jaar was daar vele eerstes hier in die Boland: 42 nuwe personeellede is aangestel, die kampus se eerste Eerstejaarskamp, Eerstejaarsverwelkoming, Eerstejaarskonsert en Eerstejaarsportgeleentheid is aangebied en daar was die aanvang van die Spore-projek – die instelling se gemeenskapsprojek.

Akademia ken ook voortaan die titel van hoogleraar aan gerekende en bewese akademici toe. ʼn Eerste hoogleraarintreerede is deur dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gelewer.

Intussen is massakonstruksie van die splinternuwe Pretoria-kampus, wat in 2028 sy deure sal open, volstoom aan die gang – die grootste onafhanklike Afrikaner-bouprojek in die geskiedenis. Daar word beraam dat ongeveer 7,1 miljoen bakstene vir hierdie fase van die bouprojek gebruik sal word.

Verder het meer as 4 400 voornemende student die instelling se kampusopedag in die Paarl en in Pretoria bygewoon. Studieaansoeke vir 2027 het op 1 April 2026 oopgemaak en beide kampusse word reeds oorval met aansoeke.

Sol-Tech

Sol-Tech het 2026 afgeskop met ʼn rekord-eerste inname van 224 eerstejaars. Hierdie merkwaardige groei weerspieël ’n toenemende vertroue onder jongmense in gehalte, doelgerigte ambagsopleiding. Solidariteit se Haarkappery-kursus, wat in Februarie 2025 sy aanvang gehad het, het reeds 21 studente. Die feit dat só ʼn nuwe kursus so vinnig groei, dui op ʼn duidelike behoefte in die mark vir praktiese, beroepsgerigte opleiding in die skoonheidsbedryf. Die kursus vestig hom vinnig as ʼn gewilde en relevante opleidingsrigting.

Sol-Tech se koshuis, die Plaashuis, het in 2026 95 nuwe inwoners verwelkom. Sedert sy opening in Januarie 2025 het altesaam 322 studente hierdie koshuis al hul tuiste gemaak. Tradisies word gebou, vriendskappe word gevorm, en ʼn onvergeetlike studentelewe leef tussen daardie mure.

Die eerste opedag vir 2026 was ook ʼn groot sukses, met 2 373 besoekers wat die kampus van 20 tot 21 Februarie besoek het. ’n Ouer het dit só opgesom: “Die passie en entoesiasme waarmee die studente die kampustoere aangebied het, spreek boekdele oor hul ervaring en die gehalte onderrig wat hulle by Sol-Tech kry.”

Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut

Daar is ʼn groeiende nood vir tuisversorging in ons gemeenskappe. Statistiek toon die volgende:

  • • Ongeveer 70% van mense ouer as 65 jaar benodig langtermyn-versorging.
  • • Ongeveer 40% van bejaardes benodig hulp met daaglikse aktiwiteite.
  • • 25% van volwassenes leef met ’n gestremdheid.
  • • Tot 80% van die sorg word self deur families voorsien.

Die Helpende Hand Opleidingsinstituut (HHO) poog elke dag om hierdie groeiende nood aan te spreek. In 2026 het die HHO tot dusver 21 tuisversorgers en 8 tuissorgassistente opgelewer. Hulle het ook ʼn nuwe geakkrediteerde jaarkursus in tuisversorging bekendgestel.

Gedurende die res van 2026 sal die HHO uitbrei met ʼn aanlyn aanbod (hibriede model), met onder meer ʼn aanlyn kursus vir tuissorgassistente (9 maande) én die uitbreiding van die Basiese Berading- en Demensie en Alzheimer se siekte kortkursusse.

Die HHO is toegewyd daaraan om ʼn netwerk van versorgers met bekwame hande en sagte harte op te lei wat ʼn blywende verskil in ons gemeenskappe maak.

Bo-Karoo Opleiding (BKO)

BKO se tegniese kampus, Technika, kry ’n hupstoot met die sooispitseremonie vir ʼn nuwe werkswinkel in Junie. Fase een fokus op die oprigting van ’n addisionele werkswinkel sowel as 6 nuwe klaskamers en ’n paar kantore om aan die groeiende behoefte te voldoen.

Steenbok Herberg, die bekende manskoshuis langs die Orania-sportgronde, ondergaan in Julie ’n welkome opgradering. Hierdie koshuis met sy 24 kamers dra ’n trotse geskiedenis, aangesien dit gebou is deur van BKO se heel eerste groep afstuderende studente. Die beplande verbeteringe sal verseker dat die koshuis steeds ’n veilige en moderne omgewing vir sy inwoners bied en aan BKO die geleentheid bied om bykomende verblyf beskikbaar te stel vir die groeiende behoefte.

BKO brei studenteverblyf vir 2027 uit met twee nuwe blokke by die Olienhout-ontwikkeling. Hierdie moderne drie-slaapkamerwoonstelle bied aan mansstudente enkelkamers met gedeelde leefareas. Die nuwe koshuis se naam word ook binnekort bekendgestel met nuwe tradisies wat gevestig sal word. ’n Nuwe damesdaghuis word ook eersdaags gestig om aan die groeiende vraag te voorsien. 

Die Leer-My-Hoe-Proefplaas gaan van krag tot krag met die ontwikkeling van ’n nuwe werkswinkel wat in 2026 afskop. Die proefplaas het sedert Januarie van ʼn 20 m x 30 m tonnel tot 22 hektaar uitgebrei om tred te hou met die groeiende belangstelling in landbou-opleiding. Met 50 nuwe eerstejaarstudente in Boerderybestuur wat vanjaar ingeskryf is, bied hierdie uitbreidings noodsaaklike praktiese blootstelling. Hierdie verwikkelinge versterk BKO se verbintenis tot uitnemende en volhoubare landbou-onderrig in die praktyk.

Solidariteit-aanlyn: Leer

Solidariteit-aanlyn het 2026 afgeskop met 35 nuwe kursusse – die totale beskikbare kursusse staan tans op 219.

Verder het die totale aantal gebruikers op Leer toegeneem, van 3 778 in 2025 na 5 784 in 2026; d.w.s. 2 006 nuwe gebruikers, wat ʼn 53%-styging verteenwoordig.

Verskeie nuwe kursusse is bekendgestel in die eerste kwartaal van 2026:

  • • Fotografie-kursus: deel 1 tot 5
  • • Onderwyswelstandmodel
  • • Sosialemediageletterdheid
  • • Ouerskap: Digitale kontroles
  • • 2 x Beroepsgesondheid- en veiligheidskursusse (BGV).

Voortgesette leer hoef nie duur of tydrowend te wees nie. Solidariteit-aanlyn maak dit vir jou so maklik as moontlik om aan die voorpunt van jou beroep te bly.

Word ʼn lid en kry vandag nog toegang tot ʼn skatkis vol gratis of spotgoedkoop kursusse!

Groter, beter, sterker

Jóú bydrae tot die Boufonds maak dit moontlik vir al hierdie opleidingsinstellings om aan te hou groei en floreer in 2026. Hierdie nuusbrokkies was maar net die begin – daar lê nog baie opwindende dinge voor vir die res van hierdie jaar.

Dankie dat jy saam bou aan ʼn toekoms vir jou kinders – óns kinders.

Ons doen dit self – groter, beter en sterker.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel