Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit en Akademia-studente by die hooggeregshof en Paleis van Justisie
Akademia se regstudente het op 28 April 2026 weer die geleentheid gekry om hul toekomstige werkwêreld van nader te beleef toe Solidariteit se Regsnetwerk ʼn begeleide toer na die hooggeregshof en die Paleis van Justisie in Pretoria aangebied het.
Die toer het studente ʼn unieke geleentheid gebied om die pragtige historiese geboue te besoek waar van Suid-Afrika se bekendste hofsake oor die jare aangehoor is. Onder leiding van Émil Glas, organiseerder van Solidariteit se Regsnetwerk, het die studente meer geleer oor die funksionering van die howe, die verskillende rolspelers in die regstelsel en die belangrike rol wat hierdie instellings in Suid-Afrika se regspraak speel.
Tydens hierdie besoek het die studente self verskeie hofsale betree en eerstehands beleef hoe die atmosfeer en praktyk van die hof verskil van dit wat hulle daagliks in handboeke leer. Die studente het ʼn blik gekry op die “regte wêreld” waarin hulle binnekort gaan werk.
Volgens Glas vorm praktiese ervarings soos dié ʼn belangrike deel van die Solidariteit Regsnetwerk se fokus om jong regslui toe te rus en te ondersteun.
“Dit is belangrik dat studente reeds vroeg blootstelling kry aan die praktiese omgewing van die regsberoep. Só help ons om hulle beter voor te berei vir die wêreld van werk wat op hulle wag,” sê hy. “As ons die beroep wil versterk, moet ons onder begin – by die studente, die regslui van die toekoms. Dit is wat ons hier probeer doen.”
Die Solidariteit Regsnetwerk bied gereeld geleenthede aan waar studente met praktisyns kan netwerk en meer oor die praktyk van die regsberoep kan leer. Die besoek aan die hooggeregshof en die Paleis van Justisie het weereens aan studente ʼn waardevolle voorsmakie gegee van die loopbaan waarvoor hulle studeer.
Kyk gerus die video’s van die besoeke hieronder: