loading
avatar
Mediaverklarings
9 uur gelede
solidariteit-in-hof-oor-afrikaans-uit-prokureurseksamens-verdwyn

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit in hof oor Afrikaans uit prokureurseksamens verdwyn

‘n Aansoek van Solidariteit om owerhede te dwing om te verduidelik hoe ‘n besluit oor Afrikaans se afskaffing uit toelatingseksamens vir regspraktisyns geneem is word Vrydag in Pretoriase Hooggeregshof aangehoor.

Die aansoek is teen die Suid-Afrikaanse Regspraktykraad (RPR) en die Inligtingsreguleerder gebring nadat die RPR glo versuim het om rekords bekend te maak na afloop van Solidariteit se aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA).

Solidariteit het toegang tot dokumente en inligting versoek wat die besluit om Afrikaans as eksamentaal te beëindig voorafgegaan en beïnvloed het.

Hierdie toegang is nie behoorlik gegee nie en  gevolglik sê Solidariteit die RPR het versuim om sy grondwetlike en statutêre verpligtinge ingevolge PAIA na te kom.

Volgens Emil Glas, organiseerder van Solidariteit se Regsnetwerk, is dit onaanvaarbaar dat antwoorde steeds ontbreek oor ‘n saak wat tegelyk oor moedertaalregte en billike toegang tot die regsberoep gaan.

“Wanneer ’n liggaam soos die Regspraktykraad ’n besluit neem wat duisende Afrikaanssprekende studente en toekomstige regspraktisyns raak, moet daar tog deursigtigheid wees oor hóé en wáárom die besluit geneem is. Regspraktisyns wat lede is van die RPR het sekerlik die reg om te weet op watse grond en waarom besluite geneem word. Die teendeel dui egter op iets wat probeer weggesteek word.

“Ons kan nie net toekyk hoe Afrikaans stelselmatig uit beroepsruimtes verwyder word nie en beslis nie waar geen behoorlike verduideliking geskied het nie,” sê Glas.

Solidariteit het verskeie pogings aangewend om die aangeleentheid sonder litigasie op te los, maar die RPR se volgehoue versuim of weiering om die verlangde inligting te verskaf het die hofaansoek onafwendbaar gemaak.

Die hof sal onder meer moet beslis of die RPR sy verpligtinge ingevolge PAIA nagekom het en of Solidariteit geregtig is op die rekords en inligting wat aangevra is.

Solidariteit se Regsnetwerk tree graag in belang van gemeenskappe vir wie Afrikaans, asook die regsberoep, belangrik is, veral waar die RPR nie verantwoordbaar teenoor sy lede optree nie en gevolglik sy plig teenoor dié groepe versaak.

“Ons wil graag die RPR herinner oor hul plig om alle tale in die regsberoep te ontwikkel en nie Afrikaans te straf nie,” sê Glas.

Solidariteit se Regsnetwerk neem die verantwoordelikheid op om die regsprofessie te beskerm en daadwerklik te begin optree vir lede, dit is hoogtyd dat die regsberoep die nodige beskerm begin geniet wat dit verdien.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel